TBZ Munisipaliteit na hof oor personeelkwalifikasies

THABAZIMBI – Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om hofaansoeke teen 43 munisipaliteite dwarsoor Suid-Afrika voor te berei, waarvan Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit ook een is.

AfriForum het vroeër ‘n veldtog van stapel gestuur, “Weg met ongekwalifiseerde amptenare” waar sy plaaslike takke bewys van hulle munisipaliteite aangevra het dat amptenare aan die bepalings van die munisipale regulasies uitgevaardig ingevolge die Minimumbevoegdheidstandaarde voldoen. Die amptelike sperdatum waarop amptenare hieraan moes voldoen, was 1 Januarie 2013.

“Ons het die inligting aangevra en verskeie antwoorde gekry. Ons sal die geldigheid van die antwoorde en die bewyse ondersoek. 43 munisipaliteite het egter glad nie gereageer nie. Ons gaan nou 43 aansoeke by die hof indien om die munisipaliteite te dwing om ons van bewyse te voorsien dat hulle amptenare aan die regulasies voldoen of uitstel gegee is om daaraan te voldoen. Indien hulle nie aan die regulasies voldoen nie en nie uitstel gekry het nie, is hulle onwettig in diens en het ons geen ander keuse as om hulle uit hulle poste te laat onthef nie,” sê Ivan Herselman, bestuurder van gemeenskapsportefeuljes by AfriForum.

Die ondersoek na die kwalifikasies van munisipale amptenare spruit uit die gebrek aan dienslewering en die menige klagtes wat van AfriForum-takke ontvang is.

Om by die Thabazimbi-tak van Afriforum aan te sluit, sms “Thabazimbi” na 31336. SMS’e kos 50c.