Sport

TBZ spog met Blou Bul

THABAZIMBI – Die jong amateur Blou Bul van Thabazimbi, Rory Cresswell (24jr), is pas aangewys as een van die 30 spelers wat aan volgende jaar se Vodacom Cup gaan deelneem.

Rory is die seun van Stewart en Phillis Cresswell, jarelange inwoners van Thabazimbi. Hulle ondersteun hul rugby-uitblinker vanaf sy Laerskool loopbaan by Laerskool Thabazimbi met bulletjie rugby totdat hy vir die HFM Eerstespan uitgedraf het. Nou is hul fokus gerig op die Blou Bul Nasionale span en die Vodacom Cup seisoen wat alreeds in Februarie 2013 afskop.

Rory oefen drie maal per week te Pietersburg by die Peter Mokaba stadion waar hulle twee en ‘n half uur veld-sessies doen en twee ure gym-sessies deurdraf.

Hy draf gewoonlik uit vir die Blou Bul Amateurspan in ‘n Slot-posisie, alhoewel hy die Flank-posisie verkies. Sy rolmodelle is Francois Hougardt asook Pierre Spies en sy leuse is “harde werk betaal altyd”.

Hy bedank graag mnr Skobol Swanepoel, wat hom gedruk en gevorm het gedurende die rugby-seisoene te HFM asook sy ouers en vriende vir hul ondersteuning.

Gedurende Rory se periode as Amateur Blou Bul, ontvang hy slegs ‘n brandstoftoelaag by die Unie en sal eers ‘n salaris ontvang wanneer hy volgende jaar aan die Vodacom Cup deelneem. Hy is dus self verantwoordelik vir verblyf, aanvullings en gimnasium fooie.

Indien enigiemand belangstel om Rory te borg gedurende sy tyd as Amateur Blou Bul, kontak gerus Stewart by 076 407 6667.

Die Amateur Blou Bulspeler, Rory Cresswell saam met sy afrigter, Gideon van Zyl.