Netiket: Etiket vir die internet
Week 42 – 19 October 2012
Kommentaar deur die Kwêvoël Redakteur, mnr Pieter Coetzee
Die meeste mense sal nie sommer direk teenoor iemand in sy gesig of selfs oor die telefoon vernederende aanmerkings of afbrekende en selfs skeltaal gebruik nie. Daarvoor bestaan daar tog ‘n mate van respek en goeie maniere. Selfs ook nie sommer stories versprei waarvan jy nie die oorsprong ken en waarby jy sommer ook jou eie stertjie byvoeg het nie.
Ongelukkig is dit nie die geval as dit by internetgebruikers, veral die gebruikers van die sosiale media soos Facebook en Twitter kom nie. Dit is kompleet asof die gebruikers alle skaamte verloor en geen maniere toon nie. Van etiket, of te wel netiket, is daar geen sprake nie. Gebruikers skroom ook nie om hul griewe oor watter onderwerp ookal met almal te deel nie. As hulle hul kommentaar net tot hulle eie muur wil beperk waar hulle vriende dit kan lees is dit nog in ‘n mate aanvaarbaar. Dit is nou indien jou vriende belangstel om elke dag te hoor hoe jou stoelgang was, of jy lus is vir werk of as hulle van al jou mooi prentjies met al die daggebedjies daarop hou.
Ongelukkig beperk mense hulle nie net tot hul eie Facebook bladsye nie maar skryf hulle so graag al hierdie niksseggende goed en skelberiggies op ander mense se mure. ‘n Gewilde muur is natuurlik die muur van Kwêvoël. Hier kan jy blykbaar dinge skryf soos “wanneer gaan hulle die kinderverkragter vastrek”, “Ons kinders is op die bus deur stakers aangerand”, “So-en-so besigheid wou nie die suurmelk terugvat nie” of “Wanneer doen die DA raadslede hul werk?” (al het jy nie eens tydens die laaste verkiesing jou stem uitgebring nie en nie ‘n benul het van die oormag van stemme teen die DA in die raad omdat jy almal oorreed het om eerder nie te gaan stem nie).
Die Kwêvoël Facebook bladsy is daar om belangstellendes in te lig oor belangrike gebeure wat ons nie noodwendig betyds kan publiseer nie, of om u as leser bewus te maak van berigte en aankondigings in die volgende uitgawe. Lesers is welkom om hulle nuus (waarvan die oorsprong bekend is en die juistheid gewaarborg is) met Kwêvoël te deel. Dit is nie daar vir die gebruiker om hul eie nuusberigte saam te stel nie. Ook nie ‘n plek om jou advertensie gratis aan Kwêvoël-lesers oor te dra nie. Advertensies is daar om in die koerant geplaas te word. As alles gratis was, hoekom nog die koerant? Waarvan moet die personeel wat die gemeenskapnuus na jou voordeur bring leef?
Hou ook maar jou snydende opmerkings vir jouself en jou vriende dat jy nou maar eerder R6 gaan spaar omdat jou onvanpaste boodskap van Kwêvoël se Facebook bladsy verwyder is. Moet dit asb nie weer op Kwêvoël se muur plaas nie. Dit kan dalk net lasterlik wees. Vryheid van spraak beteken nie dat jy enigeen kan beledig nie. Daar is steeds wette wat mens daarteen beskerm.
Indien jy hierdie boodskap lees beteken dit dat niemand in elk geval op jou woord kan staatmaak nie want hierdie boodskap word in Kwêvoël, wat jy mos nie meer jou geld op gaan mors nie, gedruk. Jy het dan so mooi onderneem om nooit weer Kwêvoël te koop nie, of het jy een êrens gaan bedel?
Daar is baie mense wat weet hoe om hierdie bladsy, wat daar gestel is om ‘n addisionele diens aan ons lesers te verskaf, te gebruik. Gebruik dit asseblief met die nodige respek teenoor lesers en instansies wat op Kwêvoël staatmaak om slegs die waarheid op ‘n professionele wyse met sy lesers te deel.
(Hierdie artikel is geskryf die dag voordat die bekgeveg op Kwêvoël se Facebook bladsy uitgebreek het. As kinders op ander instansies se fb blad praat van “kinderk*k” kan hulle gerus ag slaan op bostaande en terselfdertyd hulle maniere en taalgebruik bietjie poets. Terloop, die redaksie is verheug dat die jongmense wel koerante lees – die omset was presies dieselfde as sonder die matriek-foto’s.)