Maan sorg Saterdag vir groot skouspel

As die weer saamspeel, wag daar dié naweek ’n skouspel soos min op maankykers wanneer die volmaan en die maan se wentelbaan vir vanjaar se supermaan sorg.

Saterdagaand is die afstand tussen die aarde en die maan 356 955 km teenoor die gemiddelde 384 400 km.

Die verminderde afstand sorg vir die “grootste” maan van die jaar. Dat dit boonop volmaan is, sal ’n buitengewone skouspel meebring.

Daar word bereken dat die maan sowat 16% helderder as ’n gewone volmaan sal voorkom.

Die vorige supermaan was in Maart verlede jaar.

Op 28 November is dit die teenoorgestelde van die supermaan wanneer die maan op die verste punt van sy amper eiervormige wentelbaan om die aarde is en klein en dof sal lyk.

Vroegaand of net voordat die maan ondergaan, sal die beste tyd wees om foto’s van die hemelliggaam te neem, veral as daar geboue of bome op die foto’s is.

Die kontras tussen die geboue of bome en die volmaan naby die horison sal ’n optiese illusie veroorsaak wat die maan nog groter sal laat lyk, sê kundiges op die webwerwe van Nasa en Space.com.

Getye gaan ook hoër en laer as gewoonlik wees.

– Beeld.com