R15 000 vir wenner van Boeretydren

THABAZIMBI – Die AP Kerk Thabazimbi gemeente beplan ‘n Mini-basaar en Boeretydren op Saterdag 29 Oktober 2011 vanaf 08:00 te AP Kerk Thabazimbi, Warmbadweg, skuins oor Obaro.

Vir die Mini-basaar word ‘n vleistafel met beste pryse ooit beplan, asook Potjiekos en ‘n veiling van los goedere. Enigeen wat ‘n potjie wil kom maak waarvan die inhoud ten bate van die plaaslike kerk vir etes verkoop word, is welkom om met die kerkkantoor te skakel by 014-777 1689 (weeksoggende tussen 08:00 en 12:00). Enige items is welkom om ten bate van die kerk op die veiling aangebied te word, daar is reeds ‘n paar Hentiesbaai kabeljoue op katalogus…

Inskrywingsgeld vir die Boeretydren / Pretrit beloop R1000 per voertuig, wat bestaan uit ‘n bestuurder en sy navigator. Die prysgeld is R 15 000 vir die eersteplek; R 10 000 vir die tweedeplek en R 5 000 vir die derdeplek.

Wegspring- en eindpunt is op die AP Kerk-terrein. Die eerste voertuig spring om 08:00 weg met tussenposes van 3 minute. Die formaat is as volg: die tyd wat deelnemers op die roete spandeer word glad nie in berekening gebring by die bepaling van die wenners nie. By die verskillende kontrolepunte is daar aktiwiteite waaraan die deelnemers moet deelneem. Deelnemers kry dan punte by die onderskeie punte en al die punte by die verskillende kontrolepunte toegeken, word bymekaar getel om die wenners te bepaal.

Aktiwiteite sluit onder meer in jukskeie gooi, kettie skiet, boogskiet, Bybelvrae en dergelike dinge.

Slegs 100 kaartjies is beskikbaar. Kom deel in die pret. Skakel die kerkkantoor  weeksoggende tussen 08:00 en 12:00 by 014-777 1689.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.