Suster Jacobs tree af na jare diens

Bettie saam met Suster Marie Jacobs tydens haar afskeidsgeselligheid op 18 Augustus.

KROMDRAAI – Suster Marie Jacobs wat sewe jaar verbonde was aan die Kromdraai Kliniek het haar spreekwoordelike koorspennetjie neergelê toe sy besluit het om in Augustus die mediese toneel te verlaat om die volgende hoofstuk in haar lewe, naamlik aftrede, aan te pak.

Haar vriendinne het besluit om op Donderdag 18 Augustus ‘n heerlike afskeidsgeselligheid te lewer waartydens hulle suster Marie se aftrede kon vier en haar vir oulaas bedank vir die jare wat sy diensbaar was vir hul plaaslike kliniek.

Die geselligheid is gehou in die Volle Evangelie Kerk en dames het snaakse hoede gedra om eerder vir mekaar te giggel as om ‘n traan te pik in die emosie belaaide vertrek.

Suster Marie Jacobs word voorspoed toegewens op haar lewenspad vorentoe, mag alles wat sy aanpak ‘n sukses wees.