Plaasmarkdag inkopieparadys vir vars produkte

Freddie en Brenda Nel van ‘Nader Gastehuis by hul stalletjie.

THABAZIMBI – ‘n Tradisionele Plaasmarkdag, met ietwat van ‘n moderne baadjie, is op Saterdag 2 April by ‘ Nader Gastehuis aangebied.

Die gewildheid van plaasmarkte neem wêreldwyd toe. Volgens die organiseerders was dié debuut plaasmarkdag ‘n groot sukses en daarvoor kan die produkeienaars se ondersteuners bedank word. Die opbouende kritiek wat verkry is word ter harte geneem, en sal die organiseerders voortaan poog om ‘n nog beter produk daar te stel. Alle voorstelle is welkom aangesien die Plaasmarkdag immers vir die gemeenskap se gerief en ontspanning gedoen word.

Die organiseerders het dit goed gedink om voortaan die kinderaktiwiteite aan te pas en ‘n “kinderland” te maak vir die volgende mark wat op Saterdag 30 April sal plaasvind.

Die idee met hierdie mark is sodat kliënte vars en smaakvolle “plaasprodukte” direk by die produkeienaars kan koop en die produkte wat hulle kan bied leer ken en geniet. Hulle beoog so ver as moontlik om die gemeenskap te betrek. Indien daar iemand is wat ‘n spesiale produk wat organies, selfgemaak, herwinbaar, handgemaak of enige produk enig in sy soort is, skakel hulle gerus sodat hulle dit by die mark kan insluit.

Met die uitskakeling van die middelman, langafstand-vervoer en duur verpakking beland ‘n groter deel van die kleinhandelprys nou in deelnemende produkeienaars se sak, terwyl die verbruiker ook voordeel trek deur steeds minder as in supermarkte te betaal. Dit vergoed deels vir die bykomende koste wat soms met organiese verbouingsmetodes verband hou.

Plaasmarkte soos hierdie bied ‘n eiesoortige atmosfeer waar produkeienaars en kliënt mekaar ontmoet en handel in ‘n ontspanne atmosfeer gedryf word.

Almal is welkom om deel te vorm van hierdie unieke projek en word ieder en elk bedank vir hulle harde werk en insette by verlede Saterdag se markdag. Kontak 083 269 0434 of 014 777 1376 vir meer inligting.