Osteoporose raak ieder en elk

Die nuwe bestuur van Bosveld- en Sonskyn Oorde is gekies, hulle is voor: Hannatjie du Plessis (voorsitter) en Hester van Heerden (sekretaresse). Agter vlnr: Lorrain Dorfling (addisionele lid), Marthie Theron (tesourier), Etta Coetzer (vise voorsitter) en Joey Steyn (addisionele lid). Afwesig: Wisa Joubert en Lettie du Plessis (addisionele lede).

THABAZIMBI – Die senior burgers van Bosveld en Sonskyn Oorde het op Woensdag 6 April 2011 hul derde vergadering vir 2011 te Bosveld Oord-saal gehad.

Dr Leon Fouché van Limpopo Kliniese Navorsingsinisiatief het die senior burgers toegespreek oor osteoporose.

Volgens statistiek word een uit vyf mans deur osteoporose geraak, daarteenoor word een uit drie vroue deur een van die algemeenste beensiekte in die wêreld geraak. Blanke en Asiërs het nog ‘n hoër risiko as ander rasse.

Die algemeenste osteoporotiese frakture tas die ruggraat aan en veroorsaak ‘n verlies aan lengte, chroniese rugpyn en ‘n boggelrug. Tweede op die lys is polsbreuke gevolg deur heupbreuke. Ruggraatbreuke vind veral by die vroulike geslag teen teen omtrent 60 jaar plaas. Polsbreuke vind gewoonlik teen so 50 jaar plaas en heupbreuke word veral in die sewentiger jare ‘n probleem.

Almal se beendere word met die jare dunner, maar dit gebeur meer by vroue aangesien die vroulike hormoon, estrogeen, wat beendere help beskerm, met die menopouse skerp daal. Vroue se beendere is ook kleiner, wat die risiko verder verhoog.

Beenbouvermoë bereik sy hoogtepunt in die vroeë tot middel twintigs, dus sal ‘n gesonde dieet en ‘n leefstyl jou ‘n goeie kans gee om die res van jou lewe sterk beendere te hê.

Die beste oefening vir beendere moet impak hê, byvoorbeeld draf, aërobiese oefeninge en stap, en weerstand bied, byvoorbeeld gewigoptel. Vroue wat ses uur per week stap se risiko is die helfte minder as vroue wat minder as ‘n uur per week stap. Oefening sonder impak soos swem en joga raak nie die beendere nie, maar bou krag en verbeter balans, wat help dat ‘n mens nie so maklik val nie.

Kalsiumryke kos soos melk, joghurt, kaas, eiers, sojamelk met bygevoegde kalsium, geblikte vis, salm, verrykte graankosse, groen blaargroente soos broccoli en neute moet daagliks deel uitmaak van ‘n gesonde dieet. Kalsium is die belangrikste voedingstof vir beendere en suiwel is die beste bron, mik na drie porsies per dag, maar kies laevet-soorte waar jy kan. Vitamien D word weer benodig om kalsium te absorbeer. Benewens ‘n bietjie sonlig is sommige bronne vetterige vis, soos sardiens, haring en makriel, eiers, verrykte ontbytgrane en verrykte smere. Vermy te veel sout, kafeïen en gaskoeldrank, want dit kan die liggaam se kalsiumvoorraad uitput.

Navorsing wys rokers loop ‘n veel groter gevaar om beenbreuke te kry as nierokers. Hoe meer jy rook en hoe langer jy gerook het, hoe groter is die risiko.

‘n Drankie af en toe sal nie skade berokken nie alhoewel te veel alkohol die beenbouende selle onderdruk. Hou by die voorgestelde perk en by ‘n paar alkoholvrye dae per week.

Volgens dr Fouché kan jy jare lank osteoporose hê voor jy uiteindelik ‘n been breek. Tekens van osteoporose is onder meer pyn in die bene en gewrigte en kwaai rugpyn, veral na die menopouse. As dit nie behandel word nie, kan jou beendere so bros word dat jy ‘n rib kan breek as jy net hoes. As bene in die ruggraat breek, sukkel hulle om jou gewig te dra en word jy al krommer.

Behandeling vir osteoporose sluit in medikasie, nuwe eetgewoontes, aanvullings en fisioterapie, maar ‘n gesonde leefstyl kan baie help om osteoporose te voorkom of te vertraag.

Die volgende vergadering van die Bosveld en Sonskyn-oorde is op Woensdag 4 Mei 2011 by Bosveld Oord, waar hulle groot makietie gaan hou met die oord se verjaarsdagviering.