Visier op die bosveld verdwyn
Plaaslike verteenwoordiger.
AMANDELBULT – Asof die bosveld nie alreeds genoeg gehad het van omstrede myn- en nywerheidsontwikkelings in sensitiewe areas nie, het die sogenaamde Indies-genoteerde myngroep, “Bling Shafts”, bekend gemaak dat hulle mynregte verkry het vir die ontginning van ‘n tweeling-diamantpyp naby Amandelbult. Die “tweeling”-diamantpype is geleë onder die twee koppies, tussen Northam en Amandelbult, reeds bekend in volksmond as die Pram-koppies.
Die onlangs aangekondigde planne om ‘n ysterertssmeltery in die sensitiewe area binne die sensitiefste gedeelte van die Waterberge soos omskryf in die Waterberg Ontwikkelingsplan en soos goedgekeur deur die Waterberg Distriks Munisipaliteit, op te rig, het reeds skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.
Hierdie nuutste aankondiging laat jou met oop-mond verwondering oor die blatante manier waardeur die Suid-Afrikaanse nasie se erfenisse, so te sê uit die volk se mond geruk word.
Seismologiese-tegnieke is blykbaar gebruik om die direkte ligging van die diamantdraende pype te bepaal. Die ontdekking van die tweelingpype, of soos in die toekoms bekend sal staan as die “Bling-Bling” pype, was ‘n tegnologiese deurbraak. Dit het geen impak op die omgewing gehad nie aangesien alles deur middel van die sogenaamde “GLITTER”-tegniek (Geological Lateral Impact Twitter Tweeter External Router-tegniek) via sateliet gedoen is.
Hierdie twee koppies is reeds van voor die ontdekking van ystererts in Thabazimbi ‘n bekende baken, en visier vir die jagters met hul groot jagsgewere oppad na die wild anderkant die Vliegeberge. Selfs President Paul Kruger was nie onaangeraak deur die skoonheid van hierdie koppies oppad na sy gunsteling jagtersveld, Kwaggasvlakte tussen die huidige Thabazimbi dorp en die Marakele Nasionale Park, wat hy self so vernoem het nie. Hier waar ‘n man, omring deur die berge, maar net kon droom van die twee heuwels en een vallei wat hom van sy dors kan bevry, is dalk nou iets van die verlede.
Die amptelike aankondiging van die ontwikkeling van hierdie diamantmyn is onlangs, tydens die afgelope Indiese Mynmagnaat toekennings in New Deli, hoofstad van Indië gemaak. Die geleentheid is ondermeer deur die ontluikende Suid-Afrikaanse minister van mynwese, sy ekselensie mnr King asook sy ampsgenoot, me Queenie bygewoon.
Die ontwikkeling van hierdie nuwe diamantmyn sal beslis die ster op die Indiese kroon in Suid-Afrika plaas.