Groot 60 vir Pieter Kwêvoël

Die aerobieseklas se dames het Pieter by Die Kwêvoël kom ontvoer, elk geklee in seniorburger-drag om sy 60ste verjaarsdag te vier. Vlnr: Juf. Elanie Kotze, Barbara Botha, Marien “Marinus” Lamprecht, Else Schrenk, Luzaan Combrink, Pieter “Poppeliena” Coetzee, “B” de Klerk, “Granny” Chrissy Hodge en “Missy” Antoinette Meyer.

THABAZIMBI – Die Kwêvoël boskoerant se eienaar en redakteur, Pieter Coetzee, het vandeesweek op Woensdag 15 September sy 60ste verjaarsdag gevier.

Die groep dames saam met wie hy feitlik elke oggend van die week aerobieseklasse by Active Life Gym doen, het Pieter by Die Kwêvoël kantoor kom ontvoer, elk geklee in senior burger-drag. Vandaar het hul hom sittend agter op ‘n bakkie deur Thabazimbi se strate geneem terwyl Luzaan se vuvuzela verdere aandag ontlok het. In die sakesentrum het hul ‘n paar winkels ingevaar opsoek na daardie ontwykende seniorburger afslag. Thaba Superspar het ietwat gesukkel om die regte knoppie te kry vir die afslag en einde ten laaste maar die “two-ply” toiletpapier wat hy in sy trollie gehad het, vir hom as geskenk gee. Die Kwêvoël personeel het die vieringe voortgesit deur ‘n “pop-a-balloon” aksie. Die 60 ballonne, met elk ‘n boodskap van Thabazimbi-besighede en vriende, is teen sy kantoorvenster geplak wat hy dan een vir een moes bars om die spesiale boodskap te kon lees. Pieter vier ook vanjaar sy nuutste breinbaba, Dewside Brouery, se opening, sowel as Die Kwêvoël koerant se 28ste jaargang. Vir die gemeenskap van Thabazimbi en omliggende areas word Die Kwêvoël koerant nog altyd hoog geag in sy rol in effektiewe gemeenskapskommunikasie. Geluk Pieter, die gemeenskap is trots op jou!