Skottelgoedwassers is eko-vriendelik

Die meeste mense kan kwalik glo dat skottelgoedwassers gewoonlik baie minder water verbruik as wanneer skottelgoed met die hand gewas word.

Maar talle studies het getoon dat dit wel die geval is – insluitende ondersoeke deur die Waterwise-organisasie in Brittanje en die Universiteit van Bonn.

Hulle bevindings was dat handwas tussen 67L en 103L verbruik terwyl moderne skottelgoedwassers – wat na 1994 vervaardig is – slegs 15L tot 22L per lading verbruik.

Boonop, sê Berry Everitt, uitvoerende hoof van die Chas Everitt International-eiendomsgroep, bring skottelgoedwassers kragbesparings mee. Dit neem gemiddeld 2,5kWh om water vir handwas te verhit teenoor die 1 tot 2kWh vir die energie wat deur ‘n wasser verbruik word.

Hy skryf in die nuusbrief, Property Signposts, dat die Amerikaanse Environmetal Protection Agency (EPA) bereken het dat ‘n skottelgoedwasser waterbesparings van bykans 19 000L per jaar kan meebring en boonop kragrekenings kan snoei.

“En as ‘n bonus kan jy tot 230 uur per jaar bespaar omdat dit veel langer neem om skottelgoed met die hand te was, af te droog en weg te pak as wat dit neem om skottelgoed in ‘n wasser te laai en uit te pak wanneer die siklus voltooi is.”

Hy wys egter daarop dat die EPA die volgende raad gee om die grootste moontlike besparings te geniet:

  • Wag tot die wasser vol is voordat jy skottelgoed was – ‘n halwe lading gebruik net soveel water en krag as ‘n volle lading.
  • Krap oorskiet af pleks om dit af te spoel. Hedendaagse wassers en wasmiddels is so ontwerp dat jy nie skottelgoed vooraf onder lopende water hoef af te spoel nie.
  • Hou die watertemperatuur laag. Die meeste energie word gebruik om die water te verwarm en 49 grade Celsius is warm genoeg om behoorlik te was en enige bakterië te dood.
  • Laat jou skottelgoed lugdroog. Die hittedroog-opsie verbruik baie energie en jy kan krag spaar deur die siklus te stop en die deur oop te maak sodat die skottelgoed self droog word.