Borgdag goed ondersteun

THABAZIMBI – Die borgdag wat Saterdag by die Thabazimbi Gholfklub aangebied is was goed ondersteun. Die dag was ‘n groot sukses met 48 spelers wat vir die pryse meegeding het.

Die formaat was ‘n Beterbal kompetisie met ‘n keuse bofhou. F en FC Malan is die manne wat met die eerste prys weggestap het met 49 punte. Tweede op ‘n uittel met 47 punte was Vollie Volschenk en Janneman Nortje. Rudie en Carl Conrad was derde met Jeanetta en Christo Rall ook op 47 vierde. Veertien pare het pryse gekry. Baie dankie aan die borge, Ian King en Rudie Conrad wat die reëlings getref het en ook vir die ververings deur die dag gesorg het.

Hierdie Vrydag, 16 April, speel die Hoërskool in hulle eerste Hoërskoolliga teen Nylstroom hier op Thabazimbi se baan. Saterdag 17 April is dit weer die maand se Slagspel waar daar ook die ledetrekking gedoen sal word. Onthou net dat jy teenwoordig moet wees om met die R500 trekking weg te stap. Saterdag 24 April is dit weer liga.

Inskrywings vir die enkel Putjiespel Kompetisie moet ook so gou as moontlik gedoen word. Dit is ook ‘n belangrike kompetisie wat oor ‘n paar weke gespeel word. ‘n Ander kompetisie waaraan lede kan deelneem is die Eklektiek wat oor drie maande periodes strek. Woensdae se Pick n Pay Sonsakker is ook aaneen lopend deur die jaar.

Dit is ‘n groot teleurstelling vir die gholfspelers dat ons manne weer so swak gevaar het daar op die Amerikaanse Meesters. Die goeie nuus egter is dat een van Thabazimbi Gholfklub se jong manne, Jaco Prinsloo, tans die 46ste plek op die Suid-Afrkaanse Amateurlys beklee.