Wie is 2010 Waterberg Diamantvrou?

In 2009 het die eerste Waterberg Diamantvrou kompetisie plaasgevind waar me. Susan Victor van Bela-Bela met die gesogte kroon weggestap het.

Een van haar groot pryse was ’n fantastiese bootrit saam met haar man op die Simfonia vroeër vanjaar.

Deel van haar portefulje vir hierdie jaar is om as beskermvrou van twee liefdadigheidsorganisasies op te tree. Victor het vanuit die staanspoor haar titel baie ernstig opgeneem en is reeds hard aan die werk aan haar projekte om Die Pos kinderfonds en die De Wildt Shingwedzi Cheetah Ranch te help.

Die sukses van Waterberg Diamantvrou 2009 het die organiseerders, Dynamic Events, laat besluit om Waterberg Diamantvrou 2010 verder uit te brei na die Waterbergstreek in sy totaliteit. Daar is ook ’n nuwe liefdadigheidsorganisasie wat baat sal vind by die projek, Solidariteit Helpende Hand met Lindie Strydom (van Egoli) as skakelpersoon. Daar is reeds streekskantore van Helpende Hand in die Waterberg. Die diamantvroue sal veral betrokke wees by Helpende Hand se kospakkie en skooltassie projekte.

Hoe lyk die ideale Diamantvrou wat benoem word vir dié kompetisie?: sy is nie noodwendig ’n beroepsvrou nie, maar as sy haar hand aan ’n “werk” of projek slaan, verander dit in “goud”, sy is nie noodwendig getroud nie en het nie noodwendig kinders nie, maar indien sy wel deur ’n man en kinders omring word, is sy ’n liefdevolle vrou vir haar lewensmaat en ’n toegewyde ma vir haar kinders, sy is passievol oor haar familie, haar medemens en haar omgewing, sy sal haar talente en kreatiwiteit gebruik om die mense rondom haar belangrik en spesiaal te laat voel, sy kan op verskeie maniere in die gemeenskap betrokke wees, sy is omgewingsbewus.

Ken jy iemand met hierdie eienskappe? Nomineer jou vriendin, jou ma, jou onderwyser, jou predikantsvrou, jou skoonma, jou vrou of skryf self in.

Die wenner sal weereens fantastiese pryse ontvang.

Waterberg Diamantvrou is nie ’n skoonheidskompetisie nie. Dynamic Events skep ’n platvorm vanwaar ’n baie spesiale vrou die wêreld rondom haar verder gaan inspireer.

Jy kan nomineer deur jou eie naam te sms na Antoinette van Rensburg by tel. 082 550 6366 of Marlene de Villiers by 082 955 6494, van Dynamic Events. Hulle sal jou kontak om sodoende die nodige dokumentasie deur te faks of te e-pos.

Waar skuil die blinkste diamant? Is sy in Thabazimbi, Lephalale (Ellisras), Vaalwater, Modimolle, Mookgophong (Naboomspruit), Mokopane (Potgietersrus), Bela-Bela, Pienaarsrivier, Marble Hall, Die Vlakte of in Settlers? Hierdie groei-ervaring en onvergeetlike reis moet nie misgeloop word nie!

Dynamic Events is ’n geleentheids-organiseringsmaatskappy wat in 2009 op die been gebring is en wat ’n positiewe verskil in die gemeenskap wil maak. Mens hoor altyd van groot geleenthede wat in die omliggende stede gereël word, maar ongelukkig is dit nie altyd vir almal op die platteland moontlik om hierdie geleenthede by te woon nie. Daarom is dit vir Dynamic Events belangrik om in die Waterbergstreek se mense weer opgewonde te maak oor hulle eie mense en aktiwiteite. Die maatskappy se doelwit is om mense se kreatiwiteit en talente te ontwikkel deurdat hulle geleenthede skep waartydens hul onder andere by omgewingsake, opheffing van die gemeenskap en positiewe netwerking met mekaar, betrokke kan raak.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.