Lugskouspel by Bela Bela

BELA BELA – Dit is die tweede agtereenvolgende jaar wat Zebula Gholflandgoed, buite Bela-Bela, die gasheer sal wees vir die SAA-lugskou.

Inwoners van Bela-Bela en omgewing kan Zebula op Saterdag, 10 April, besoek om van die mees skouspelagtige lugtoertjies met vliegtuie te aanskou.

Dit is veral die Bosveld se skoon lug wat die ervaring vir toeskouer én vlieëniers besonder maak.

Daar word deur die loop van die dag verskeie aktiwiteite asook kos en drinkgoed teen baie billike tariewe by Zebula aangebied. Daar is ook ’n toeskouerstent waar die Warthog Wallow Pub die vure gaan aansteek om heerlike eetgoed vir die besoekers te berei.

Die ingang na die lugskou is R30 vir volwassenes en R10 vir kinders.

Vir meer inligting oor die geleentheid of vir akkommodasie, kontak die toerismekantoor op Bela-Bela by tel. (014) 736-3694.