Gholf volstoom aan die gang
THABAZIMBI – Daar is die nuwe jaar toe reeds volstoom aan die gang. Na die lekker gereën die afgelope weke is die gholfbaan pragtig.
Die eerste amptelike kompetisie het dan ook verlede Saterdag begin en soos gebruiklik was dit Slagspel. Derek Torlage wen die eerste beker van die jaar met ‘n net 72. Ettiene le Roux was tweede met 74. Johan Prinsloo en P Heyns, albei op 75, was die ander wenners.
Sover vasgestel kon word is al die klub se lede wat weg was reeds veilig tuis. Jakkie van der Wateren het ook weer begin speel na sy skoueroperasie. Daar is egter met spyt verneem van Riaan Vorster wat ‘n groot operasie ondergaan het. Hy is reeds tuis waar hy aansterk. Sterkte ou maat, ons bid en glo dat jy gou weer saam met ons sal kan speel. Nita Barnard se moeder is ook oorlede en die klub wil haar en Johan ook net al hul simpatie en krag toebid.
Die hoop word ook uitgespreek dat die nuwe jaar vir al die lede baie vreugde, voorspoed en goeie gholf sal bring.