Mediese navorsing hupstoot vir Thaba
THABAZIMBI – Dr Leon Fouché glo dat die studies in mediese navorsing wat tans plaaslik gedoen word en dié wat beplan word ‘n groot hupstoot vir Thabazimbi en die Bosveld beteken.
Die Limpopo Kliniese Navorsingsinisiatief het Saterdagaand 21 Oktober ‘n “erkenningsfunksie” gehou by Motsomi Lodge. Hy het verskeie mense bedank vir hul bydrae tot die eerste van hierdie studies, naamlik die toetsing van medikasie vir die behandeling van osteoporose.
Dr Fouché, wat saam met sy gesin uit die stad na Thabazimbi verhuis het, het in die kort tydperk (ses maande) sedert hulle in Thabazimbi woon wyd impak gemaak en heelwat mense leer ken en baie goeie vordering gemaak met die navorsing. Daar is reeds 528 skanderings gedoen in 8 weke.
Hy maak ook geen geheim daarvan dat dit hom en sy vrou, Erna, (wat ook deel is van die navorsinginisiatief) se intense wens was om die stad te verlaat en hulle in Thabazimbi te vestig nie.
Daar is ook ander studies in die vooruitsig, onder andere studies oor gout, velinfeksies en griep.
Dr Fouché meen dat die mediese navorsing wat tans hier gedoen word kan “lei tot groot dinge” en grootliks bydra tot die groei in die wetenskap, groei in die gemeenskapslewe van die omgewing en ‘n groter bewussyn van gesondheid.
Uit sy bedankings het dit geblyk dat ‘n groot groep mense betrokke was by die navorsing tot dusver en hy het die samewerking van, onder andere, aptekers, dokters, radiografiste, verpleegsters, pasiënte, Curamed, patalogiese dienste hoog op prys gestel.
Die funksie, die Bosveld Been Makietie genoem, is baie gepas gehou, op die eiendom van taksidermis Derek Robinson. Heelwat bene (of beendere) was deel van die agtergrond waarin die funksie plaasgevind het. Die menu het ook ‘n definitiewe “been”inslag gehad, met disse soos “ontbeende geroosterde kruisskyf” en “droë vonkelbene”.
Hennie Pauw