Donker skerms vir plaaslike Mnet kykers
Hennie Pauw
THABAZIMBI – Thabazimbiërs was hoogs ontstoke toe kabeldiefstal na die M-Net sender die afgelope week gelei het tot donker skerms. Dit blyk dat vandale sowat 30 m kabel en ‘n transformator naby die toring wat op Kumba-grond geleë is, gesteel het. Die sender is onder die beheer van die Thabazimbi Munisipaliteit, maar die kabels en transformator was reeds teen Donderdagoggend goedgunstiglik deur Kumba vervang. Hierna moes ‘n opkoppeling geskied wat almal weer toegang tot hul gunsteling sepie of M-Net-program sou gee. Aan die Munisipaliteit se kant is daar ontken dat die verantwoordelikheid by hulle lê, en die waarnemende hoof van Elektries het Die Kwêvoël verwys na Kumba. Kumba het egter hulle deel gedoen en die opkoppeling van senders soos dié van M-Net, die polisie en Thaba Alarms is dan die verantwoordelikheid van die individuele instansies.