General

Helpende Hande hou kermis

THABAZIMBI – Helpende Hande,‘n organisasie wat omsien na Thabazimbi gemeenskap se kanker pasiënte, hou op Saterdag 10 Oktober 2009 ‘n Kermis.
Die Kermis sowel as Potjiekoskompetisie sal by die Helpende Hande perseel te ou Kommandegronde gehou word om fondse te genereer om fase 4 van die Versorgingseenheid vir Terminale kankerpasiënte te voltooi.
Die Potjiekoskompetisie beloof om vir baie opwinding te sorg aangesien Pierre van Pletzen, oftewel Oubaas van 7de Laan-faam en sy vrou Sandra die beoordelaars gaan wees. Inskrywings vir die kompetisie beloop R30 per span van vier persone. Pryse gaan aan die eerste drie wenners asook ‘n prys vir die beste spangees.
Die Kermis self hou hope pret in met kosstalletjies sowel as ‘n verskeidenheid ander stalletjies, ‘n kontant kroeg en boeresport. Inskrywings vir die boeresport wat sakresies en vele ander insluit, beloop slegs R1 per inskrywing. Vir die kinders is daar ook vermaak in die vorm van ‘n springkasteel. Vir die Rugby geesdriftiges is daar ook voorsiening getref met ‘n tent waar die Currybeker wedstryde gevolg kan word. Waslap-orkes tree met tussen sessies op en dan sal die sanger Rainier le Roux om 15:00 die gehoor vermaak.
Steelwings, die plaaslike motorfietsklub, het beloof om ook met hul motorfietse in te kom en bystand te verleen. Om 12:00 sal van die Veteraanmotors hul verskyning kom maak en al die geesdriftiges kan dan die motors en motorfietse kom bewonder. Toegang tot die Kermis is gratis en die organiseerders doen graag ‘n beroep op die gemeenskap om hierdie dag te ondersteun.
Indien enige persoon belangstel om ‘n stalletjie te bedryf teen R300 per stalletjie, of aan die Potjiekoskompetisie deel te neem, kan Rykie May geskakel word by 082 602 4379.