Jagkwotas aan grondeisers toegestaan

Bates wat in verskeie natuurreservate wat oor dekades deur belastingbetalers se geld opgebou is, word skynbaar van wild gestroop. Huidige gepubliseerde grondeise bestaan op verskeie provinsiale reservate in Limpopo, maar geen van die eise is nog as geldig bewys nie, en geen transaksie is nog afgehandel nie. Tydens ‘n vergadering is jagkwotas egter toegeken aan die grondeisers van hierdie reservate. Mnr Viljoen, voorsitter TLU SA Noord het sy kommer uitgespreek aangesien dit wil voorkom asof bates wat oor jare deur belastingbetalers opgebou is, nou gestroop word tot voordeel van sogenaamde eisers. Eisers waarvan die eise nog nie as geldig bewys is nie en ook nog nie afgehandel is nie. Die laaste wild sensus is in 2006 gedoen dus is daar op hierdie stadium geen sekerheid ten opsigte van die getalle wat op die reservate is nie. Die toekenning van kwotas is daarom nie wetenskaplik bepaal nie. Dit het ‘n implikasie op volhoubaarheid wat ‘n wetlike implikasie het ten opsigte van die omgewingwetgewing (NEMA National Environmental Management Act). Volgens inligting word daar tans met ‘n paar jagondernemings onderhandel om die stroping te doen. Daar is ook skynbaar ‘n soortgelyke aksie in Letaba Ranch en Makuya Park aan die gang. Beide van die reservate het oop grense met die Kruger Nasionale Park. Die kwotas sluit skynbaar olifante, seekoeie, buffels en leeus in. Volgens Viljoen moet die volgende sake dringend aandag kry: Die geldigheid van die ‘toekenning’ van jagkwotas in die lig van die feit dat die grondeise nog nie eers afgehandel is nie; is daar enige van die amptenare wat betrokke is, waar daar konflik van belang bewys kan word. Met ander woorde sal daar bewys kan word dat die amptenare gesinsfamilie of stamverhoudinge met die eisers het; staatsbates word skynbaar onwettig vervreem deur middel van sogenaamde ‘skenkings’; geen departement het huidig ‘n beleid in plek om enige jagaktiwiteite op provinsiale reservate te bestuur nie; daar bestaan geen ooreenkoms tussen enige provinsiale regeringsdepartement en die eisers ; wie het die transaksie goedgekeur? Viljoen sê dat indien dit nodig word om wild uit te dun, moet daar ‘n bepaalde beleid en prosedure in plek wees en moet die fondse wat so ingevorder word, weer in die natuurreservate teruggeploeg word. Hy het gewaarsku dat die korrupte amptenare wat die ‘slim plan’ uitgedink het, die sogenaamde eisers en die jagondernemings wat hieraan deelneem, kan verwag dat daar op ‘n stadium wanneer wet en orde na Suid Afrika terugkeer, verantwoording gedoen sal moet word. Soos in Zimbabwe, draai die wiel van geregtigheid soms stadig, maar op die ou end sal die skuldiges aan die pen ry. Wanneer wet en orde na Suid Afrika terugkeer, sal die sogenaamde grondeise weer hersien moet word. Dan sal daar vasgestel moet word of die eise volgens wet ingestel was en aan die bepalings van die wet voldoen het. Dit is daarom in belang van die huidige amptenare en die eisers om erns te maak met die wetgewing en om seker te maak dat daar nie later eise teen hulle ingestel word nie.