Ons lesers skryf – Afgri oorname deur Obaro
Ek lees in ‘n onlangse Landbouweekblad dat een van ons koöperasies in die dorp, Afgri, deur sy konkurrent Obaro, oorgeneem gaan word mits die Raad op Mededinging dit goedkeur. Alhoewel ek verstaan dat dit nie net die Thabazimbi tak is nie en dat daar 11 Afgri takke in die Laeveld Streek is wat in gedrang is, wek dit ontsaglike kommer by my.
My kommer is juis, hoe die Raad op Mededinging gaan bepaal of daar nie juis nou ‘n Monopolie gestig gaan word, wat vir my as verbruiker direk gaan raak wanneer daar nie meer gesonde prys mededinging kan plaasvind nie. Ek wil my nie eens voorstel hoe ons arme boeregemeenskap die oorname gaan ervaar nie, aangesien hulle juis nou onder soveel ekonomiese druk en prysskommelings verkeer. Gaan die boer nie nou juis moet opdok vir brood nodige boerdery middele wat slegs die koöperasies kan bied soos byvoorbeeld kunsmis, saad, olie, grondslyt onderdele ensovoorts nie, aangesien die prysvasstelling nou net deur een koöperasie waargeneem word.
Thabazimbi is ‘n baie diverse dorp met baie saai- en wildboere, gastehuise en lodges. Dit sal ‘n ramp wees wanneer ek nie meer by ‘n Afgri kan ingaan om byvoorbeeld my kamptoerusting, perdry middele vir my dogter, my man se jagklere ensovoorts kan aankoop nie. Bogenoemde produkte word juis nie in ander winkels in Thabazimbi verkoop nie, en dit sal my nou noodsaak om honderde kilometers ver te reis om hierdie middele aan te koop.
Ek hoop regtig dat die mense wat hierdie besluite neem, besef dat dit nie net die mense wat by hulle maatskappy werk raak nie, maar ook die kliënt wat jaar na jaar getrou sy aankope by Afgri doen juis oor die beskikbaarheid en goeie diens by aankope. Daar kan ook altyd op Afgri staat gemaak word sou daar borgskappe en skenkings vir ons skole en spesiale projekte vereis word, wat net weer Afgri se integrale rol wat hy in die dorp speel, bewys.
‘n Besigheid wat in Thabazimbi noodgedwonge sy deure moet sluit weens ekonomiese toestande of in Afgri se geval weens demutualisering van takke is vir die koopkrag van die dorp soos om ‘n kind te verloor en ek hoop van harte dat die regte besluite geneem sal word en dat ons Afgri nog vir jare deel van ons besigheidsgemeenskap sal hê.
– ‘n Bekommerde Afgri kliënt