General

RPO Kongres – trots SA Beesboere

Die RPO Limpopo Kongres is verlede week in 'n positiewe gees gehou(vlnr): Jorrie Ellis (voormalige bestuurslid), Japie Ellis (Voorsitter), Marinus van Dyk (Addisionele lid), en sprekers Abraham Groenewald, Graig Shepstone, Wilma Prinsloo (RPO sekretaresse), Koos van der Ryst, dr Danie Odendaal en dr Koos Coetzee.
Die RPO Limpopo Kongres is verlede week in 'n positiewe gees gehou(vlnr): Jorrie Ellis (voormalige bestuurslid), Japie Ellis (Voorsitter), Marinus van Dyk (Addisionele lid), en sprekers Abraham Groenewald, Graig Shepstone, Wilma Prinsloo (RPO sekretaresse), Koos van der Ryst, dr Danie Odendaal en dr Koos Coetzee.

Elana Greyling

Die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) Limpopo het onlangs hul jaarlikse Kongres in ‘n positiewe gees te Baltimore gehou.
Vertroue in die bestuur is bevestig deur die herverkiesing van mnr Japie Ellis as voorsitter, mnr Marinus van Dyk, jare reeds op die bestuur, as addisionele lid en as vise voorsitter jong bloed in die vorm van mnr Nico Wagner van Koedoesrand.
Groete van RPO Nasionaal is oorgedra deur mnr Koos van der Ryst van RPO Noord Kaap. “Ons kan trots wees om beesboere te wees! Dis ‘n edel werk om vir die nasie kos te gee!” het Van der Ryst produsente gemaan. Hy het die uitdagings van die bedryf aan kongresgangers voorgehou:
Stygende insetkostes en wins wat nie die gewone formule volg van hoë risiko, hoë wins nie;
Veediefstal – daar is ‘n gebrek aan begrip van beide die SAPD en staatsaanklaers. Ongemerkte vee veroorsaak groot probleme.
Probleemdiere rig R1,1 biljoen skade per jaar aan. Dis ‘n ‘groen’ probleem wat volgens Van der Ryst verantwoordelik hanteer moet word.
Invoere – die 40% invoerbelasting maak net-net die speelveld vir boere gelyk.
Dieregesondheid – grensheinings is nie meer in ‘n toestand om veesiektes uit te hou nie en staatsveeartse word skaars en hul laboratoriums nie-funksionerend.
Bemarking – “Ons het ‘n storie om vir die verbruiker te vertel: SA Rooivleis is gesond!” Hy glo die rooivleisprodusent bly die grootste aandeelhouer in die rooivleiswaardeketting. Die vleisbedryf is gesond en stabiel te midde van huidige omstandighede. Die vraag na rooivleis groei, al word die per kapita gebruik minder, bloot omdat daar meer verbruikers is.
Klassifikasiestelsels is bespreek en voorstelle is hanteer om die stelsel tot voordeel van beide die verbruiker as die produsent te struktureer.
Abraham Groenewald het markvraag na die sogenaamde ‘veldvleis’ ondersoek. Natuurlik afgeronde diere wat op die veld loop en nie anti-biotika of groeistimulante gebruik nie.
Verbruikers is tevrede met die verskeidenheid van vleis. Die meeste verbruikers verkies beesvleis, wil graag sien wat hulle koop. Minder is bekommerd oor groeistimulante en naspeurbaarheid.
Volgens Groenewald bestaan daar ‘n nismark van 10 000 – 20 000 karkasse wat teen ‘n premie verkoop kan word. Potensiaal vir groei is groot.
Dr Danie Odendaal glo ‘n nasionale biosekuriteitsplan is noodsaaklik in ‘n bedryf waar plattelandse veeartse al hoe minder word. Met behulp van die linligting wat deur ‘n vraelys wat hy tans verfyn, sal ‘n veearts ‘n uitstekende idée kry van ‘n produsent se omstandighede en behoeftes. So kan pro-aktief opgetree word en ‘n enkele veearts kan meer as ‘n honderd produsente bedien.
‘n Student van onderstepoort, Craig Shepstone het die invloed van artrose op ‘n rooivleiskudde bespreek. Sy studies oor die tekorte in fosfate en mikro- en makro-minerale het interessante resultate opgelewer. Dis essensieel dat ‘n boer moet weet wat sy diere inkry en watter tekorte hulle het.
Dr Koos Coetzee, ekonoom van die MPO, verduidelik hoekom die rooivleisbedryf meer stabiel is as ander komoditeite. Hy voorspel dat die einde van die ekonomiese negatiewe groei in sig is. Die verbruik van rooivleis neem egter nie dramaties af soos ander produkte nie. Klimaatsveranderinge, gebrek aan regeringsteun en die vraag na grane vir biobrandstof speel alles ‘n rol. “Ons kan nie vir altyd wag vir beter tye nie!” waarsku hy. Speenkalfpryse behoort teen die einde van die jaar ‘n opswaai te beleef. Die besef van voedselsekuriteit dring volgens Coetzee nou tot die regering deur.
In die positiewe gees, is produsente opnuut bewus van die uitdagings en unieke geleenthede van die bedryf.