Business

Nuwe beesras vertoon

Limpopo, die PinZyl bul wat tydens die Thabazimbi Skou ten toon gestel is, is geteel deur Paul Bester van Mothomo PinZyl's van Mooketsi, Hier by Lukas Dinda.
Limpopo, die PinZyl bul wat tydens die Thabazimbi Skou ten toon gestel is, is geteel deur Paul Bester van Mothomo PinZyl's van Mooketsi, Hier by Lukas Dinda.

Elana Greyling

“Die beste van twee wêrelde word in hierdie ras gekombineer,” vertel Paul Bester, beesboer van Mooketsie.
Paul, ook president van die Pinzgauer Beestelersgenootskap, het saam met sy Pinzgauers, ook die nuwe kruisras, PinZyl kom vertoon. Die ras behoort binnekort amptelik deur die Registrateur as ‘n ‘ras onder evaluasie’ geregistreer te word. Die PinZyl is ‘n kruisras wat die beste eienskappe van die Pinzgauer met die inheemse Nguni kombineer.
Nog ‘n vertoner, mnr Hardus Steenekamp van Steenbokpan het ook sy diere kom wys. Hardus het reeds oor die afgelope sewe jaar pionierswerk met kruisteling gedoen
Dit lyk egter nou of die paadjie amper voltooi is. Hardus het in 2002 begin om ‘n skaars Italiaanse ras, die Pustertaler met Nguni’s te kruis. Aanvanklik het die nuwe ras bekend gestaan as die Supertaler en het onder die Simmentaler Beestelersgenootskap geresorteer. Daar was egter heelwat administratiewe probleme om die ras geregistreer te kry. Die Registrateur se beswaar was dat die Pustertaler te na aan die Pinzgauer was om hier ‘n nuwe kruisras te registreer. Beide die rasse behoort tot dieselfde ekotipe.
Na wedersydse gesprekke is Hardus en sy ras ingeskakel by die PinZyl’s en het hy en sy beeste ‘n tuiste by die Pinzgauer Genootskap gevind. Hy is positief oor die toekoms van die ras: “Die Pinzgauer-manne is entoesiasties en doen agressiewe bemarking. Ek voel sommer tuis by hulle!” Die Pustertaler en Pinzgauer lyk identies en volgens Hardus gee dit hom toegang tot ‘n veel groter genepol as wat by die Pustertaler beskikbaar is.
Bester glo die PinZyl bied vir boere vleis- en melkproduksie met gehardheid, aanpasbaarheid en uitstekende moedereienskappe.
Mnr Pieter Visagie van die Universiteit van Pretoria is tans besig om ‘n studie te doen oor die eienskappe van die Pinzgauer en Nguni en hoe dit oorgedra word om die PinZyl ‘n meer aanpasbare bees te maak.