Jong man oorlede in motorongeluk
THABAZIMBI – ‘n Jong ingenieur van Anglo Platinum, Monosi Thomas Molaletsi, seun van Javas Molaletsi is op 1 Augustus 2009 in ‘n motorongeluk net buite Thabazimbi oorlede.
Thomas het sy skoolloopbaan by Laerskool Ysterberg begin. As Groenvlei Hoërskool matrikulant skryf hy by die Randse Afrikaanse Universiteit in Aucklandpark in waar hy hom as ingenieur bekwaam het. Thomas aanvaar ‘n pos by Amandelbult myn waar hy na ‘n kort loopbaan bevorder word.
Op Saterdagoggend 1 Augustus om ongeveer 06:00 verloor hy beheer oor sy voertuig nadat hy by sy vriend, Ruel Mokokaba te Lephalale gekuier het, hulle was in verskillende voertuie oppad na ‘n sokkerwedstryd wat later die oggend te Rustenburg Royal Bafokeng Sports Stadium sou plaasvind.
Thomas is op Sondag 8 Augustus vanuit die United Reformed Church of South Africa in Regorogile ter ruste gelê.