General

Organisasies help met maatskaplike werk

Hennie Pauw

THABAZIMBI – Joernaliste werk dikwels met die skadukant van die lewe, soos gebrekkige dienslewering, korrupsie en traak-my-nie-agtigheid oor die omgewing. Die norm deesdae is eerder selfverryking.
Dis dan wanneer stories soos die ontstaan van plekke soos Thabang en Legae la Bona soos reën in die woestyn val. Partykeer slaan die onbaatsugtigheid en goedheid van mense ‘n mens tóg vir ‘n ses, en dan word ‘n mens se vertroue in die mensdom ‘n bietjie herstel.
Thabang, Legae la Bona en OVC (Orphaned and Vulnerable Children) in Regorogile is voorbeelde van instansies wat ‘n diens bied aan die gemeenskap, veral aan diegene wat nie op hul eie toegang kan verkry tot mediese dienste en toelaes, wat deur die staat gebied word nie. Al hierdie organisasies het ontstaan as gevolg van die meelewing en barmhartigheid van private individue.
Hulle het egter nie net barmhartige gevoelens gekoester nie; hulle het iets daaromtrent gedoen – met baie moeite en dikwels hul hande diep in hul eie sakke gesteek. Op dié manier is ‘n verskil gemaak het in die lewens van verskeie mense in die Thabazimbi-omgewing.
Dit blyk dat die ondersteuning van die staat of owerheidsinstansies, soos Maatskaplike Dienste, munisipaliteit of hospitaal dikwels veel te wense oorlaat. Hoe dikwels word daar nie gehoor dat die munisipaliteit genader is om grond te skenk, maar dis afgewys. Of Maatskaplike Dienste het te lank gesloer om papiere te teken sodat ‘n siek man sy toelaag kon kry of die mobiele kliniek bedien net eenvoudig nie meer sekere areas nie.
‘n Verstandelik gestremde man is onlangs deur Maatskaplike dienste opgetel en by die hospitaal afgelaai vir evaluasie. Daardie man was binne ‘n uur of twee weer terug op die straat. Die rede wat aanvoor was dat die persoon wat die evaluasie moes doen, nie by die hospitaal was nie.
Borge, soos supermarkte en besighede, maak wel finansiële en kos-bydraes, maar daar is net soveel wat die klein handjievol besighede in Thabazimbi kan doen. En die nood is groot…
Ter verdediging verduidelik Sam Madela, woordvoerder by Maatskaplike Dienste in Thabazimbi, dat hulle werklading en –area baie groot is. Hulle werk so ver as Kromdraai en Cumberland, sê hy. Hulle sal, byvoorbeeld, probeer om ‘n maatskaplike werker een maal per week Dwaalboom toe te stuur. Hierdie maatskaplike werker moet dan sake hanteer wanneer hy/sy terug is in Thabazimbi.
Volgens hom lê die antwoord daarin om meer mense aan te stel. Tans is daar vyf opgeleide maatskaplike werkers en drie hulp-maatskaplike werkers werksaam by die Thabazimbi-kantoor. Daar is een maatskaplike werker en een hulpwerker by Northam.
Hulle probeer tans om poste vir sowat tien hulp-maatskaplike werkers gevul te kry. Die staat verskaf die opleiding aan hierdie nuwe aanstellings. Hulle werk ook hard om die salarisse van maatskaplike werkers verhoog te kry, sodat hulle meer mense kan lok. Hy sê egter dat dit nie net ‘n plaaslike probleem is nie, maar landswyd.
Die skep van tien nuwe poste sal nie alleen werkskepping help bevorder nie, maar ook die gevallelading help verminder, meen Madela. En natuurlik sal dit help as minderbevoorregtes uit die gemeenskap aansoek doen, opgelei word en op hulle beurt weer die gemeenskap kan help ophef.
Hy verduidelik ook dat dit lyk dat die vinger na hulle gewys word as sake sloer, maar dat hul werk ook opgehou word deur die howe, met wie hulle nou saamwerk in sake soos pleegsorgtoelaes.
Hy het ook verwys na die emosionele bagasie wat baie maatskaplike werkers opgeskeep is vanweë die aard van hul werk.
Die probleme wat in die maatskaplike dienste sektor bestaan, word op die hoogste vlak aangespreek. Dit moet egter eers deur die korrekte kanale gaan en hierdie proses neem ook baie tyd, sê Madela.