Thabazimbi Apiesdoring Karnaval

THABAZIMBI – Na die reuse sukses van die Apiesdoring karnaval verlede jaar, het die Vliegepoort gemeente weereens besluit dat Augustusmaand die tweede jaarlikse Apiesdoring Karnaval sal sien.
“Wat is die wen-resep vir ‘n fees wat mense weer en weer sal laat terugkom?” Dit was die vraag wat die organiseerders van die Apiesdoring karnaval hulleself in ‘n vergadering so 4 maande terug afgevra het. Dis nou na afloop van verlede jaar se groot sukses. En na ‘n lekker opwindende vergadering lyk die notule puntsgewys toe soos volg:
*Lekker vermaak deur ‘n top gaskunstenaar – soos Thys die Bosveldklong. Heeldag, van 9:00 tot 15:00. En maak die toegang gratis vir almal.
*Die boom van die jaar 2009 is die Apiesdoringboom. Kom ons maak ons tema “Apiesdoring koningboom.” Die stalletjies word opgemaak met name van verskillende bome uit die bosveld, byvoorbeeld Hardkool pannekoekstalletjie of die Sekelbos pap en wildslewer stalletjie. “Selfs die toilette kan ‘n bosveldboom se naam kry”, het Hannes Koekemoer voorgestel en dit word so besluit. “En kom ons gee 100 jong bosveldboompies vir die eerste 100 vleiskopers gratis weg”.
*Dis resessie in ons land. “Kom ons skok die publiek weer, maar nou met ons amper-te-goed-om-waar-te-wees-pryse vir alles”. Het vergaderinggangers uitgeroep. Vleispryse wat die karnavalgangers in groot voorrade sal wil laat koop. Wilds- en beesbiltong teen R99/kg, wors teen R39 p/kg en maalvleis teen R35 p/kg!
*Daar moet ‘n Kanaän gevoel ervaar word. Alles in oormaat. Want daar word karnaval vir die Here en Sy kerk gehou. Tafels wat kreun onder heerlike vars gebakte brode, koeke, terte, nageregte, pannekoeke ensovoorts.
*En ons boerekultuur moet daar wees. Bakoondbrood, roosterkoeke en potbrode. Pap en kaiings. Nat beskuit asook blatjang en konfyt van alle geure.
*Hou die kinders besig van vroeg tot laat. ‘n Boomklimkompetisie, spookhuis, tombola en talle ander speletjies. En ‘n lekkergoedstalletjie wat ‘n soettandkind se mond sal laat water.
*“n Groot kompetisie waar jy 5 top koeie of R30 000 kontant kan wen.(Die 5 beeste sal op die dag van die karnaval daar wees vir besigtiging).
* ‘n Lekkerkry veiling met net 30 top artikels. Onder andere ‘n Jeep Grand Cherokee en ‘n 2009 Super 14 getekende Bulls trui – professioneel geraam.
* En boere gasvryheid moet daar wees. ‘n Gevoel van “hier hoort ek”. Dis so besluit. Die voorsitter, ouderling Isak Joubert, herinner die vergadering dat ‘n vergadering net sinvol is as die besluite so uitgevoer word.
Die Apiesdoring karnaval vind plaas DV Saterdag 8 Augustus by die Hervormde kerk Vliegepoort op Thabazimbi.