General

TLU SA woon Landbou begrotingsdebatte by

TLU SA se Adjunk-president, mnr. Louis Meintjes, is deur die landbou-unie afgevaardig om persoonlik die replieke op die begrotingstoesprake van die ministers van Landbou en van Landelike Ontwikkeling en van Grondhervorming, in die Parlement by te woon.
Mnr. Meintjes het vandag tydens TLU SA se Algemene Raadvergadering terugvoer gegee oor sy besoek, en gesê dit is bemoedigend om te sien dat landbou weer ‘n minister het wat geesdriftig is oor haar portefeulje.  Die feit dat sy nie die blanke boere tot vyande wil verklaar nie, kan uiteraard net positief ontvang word.  Net so is TLU SA ook positief oor die Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se planne om die platteland te ontwikkel, want dit kan net die plattelandse ekonomie bevoordeel.
Daar is egter sake in die parlement geopper, deur die betrokke ministers en ook die voorsitter van die portefeuljekomitee oor landbou, wat TLU SA minder opgewonde maak.  Die indruk is telkens gelaat dat die ANC se Freedom Charter in baie gevalle geag word as gesag bo die land se Grondwet, en dat die hele proses ideologies gedryf word terwyl ekonomiese realiteite weer eens oor die hoof gesien word.  Gedurige verwysing na die mislukking van die gewillige verkoper, gewillige koper-beginsel spel niks goed uit nie, veral as dit saamgelees word met uitsprake dat weer besin moet word oor die moontlikheid van onteiening.  TLU SA in in hierdie geval ook teleurgestel oor die oënskynlike ommeswaai wat ‘n opposisieparty soos Cope oor hierdie saak gemaak het.
Byna oormatige klem is ook gelê op mikro-landbou, soos die geweldige ondersteuning wat vir opkomende boere en groentetuine betuig is, terwyl die kommersiële boere, wat tans 90% van die land se voedsel produseer, in ‘n groot mate tydens die parlementêre besprekings oor die hoof gesien word.  “In wese sit ons sonder ‘n werklike kommersiële landbou  begroting, en op hierdie stadium wil dit voorkom of daar nog nie ‘n duidelike skeiding is tussen die departemente van landbou en van grondherverdeling nie.  Alhoewel die ministeries geskei is, lyk dit steeds of hulle gesamentlik opereer,” was mnr. Meintjes se opsomming van die begrotingsposte se besprekings.
Sekere teenstrydighede tussen die twee nuwe ministeries, en uitsprake van die voorsitter van die betrokke portefeuljekomitee, mnr. Lulu Johnson wat daarop neerkom dat hy beweer dat die boere die grond in elk geval gesteel het en daarom nie op enige vergoeding geregtig is nie, wys daarop dat pres. Zuma nog baie werk het om sy hele kabinet en administrasie op mekaar ingestel te kry, en veral in pas te kry met sy eie verklaring dat die land aan almal behoort: swart en wit.  Hierdie boodskap het duidelik nog nie by al sy eie funksionarisse uitgekom nie, en mnr. Zuma behoort roekelose uitsprake soos dié van Johnson, onvoorwaardelik te repudieer.
Mnr. Meintjes het tydens informele gesprekke met die minister en adjunk-minister van landbou kon ooreenkom tot spoedige verdere gesprekvoering.
– Henk van de Graaf