Plaaslike dame hengel voor

Die wenners van die spesiehengelkompetisie onlangs by Roos se Oord het ‘n plaaslike vrouehengelaar in die tweede plek opgelewer. In die middel is Mariëtta Botha van Setaria met haar 5,94 kg karp. Links is Chris Joubert (derde) en regs Remo van der Linde (eerste).

SETARIA – ‘n Plaaslike vrouehengelaar, Mariëtta Botha, was tweede in ‘n hengelkompetisie by die Hartebeespoortdam, wat deelname oor ‘n wye gebied gelok het.
Sy het die tweede grootste karp, van 5,94 kg, gevang in hierdie spesiehengelkompetisie, waarvan die wenner Remo van der Linde van Sasolburg was met ‘n karp wat die skaal op 6,24 kg laat trek het. Derde was Chris Joubert van Pretoria wie se vangs die skaal op 4,2 kg laat trek het.
Mariëtta en haar man, Theunis, het die Marico Polisieklub verteenwoordig in die Meesters Afdeling tydens die kompetisie, maar is ook lid van die Northam Hengelklub.
Altesaam 510 hengelaars het die koue trotseer om aan die kompetisie, by Roos se Oord, deel te neem. Dit het afgeskop op Vrydag 5 Junie om 19:00 en geduur tot Sondag 09:00.
Mariëtta het reeds binne die eerste uur van die kompetisie voorgeloop met haar vangs, en het die voortou behou tot 03:50 Sondagoggend toe die wenkarp uitgetrek is. Dit is die eerste keer in die geskiedenis van die kompetisie dat ‘n dame hierdie prestasie kon behaal het.
Substansiële bedrae aan prysgeld is uitbetaal aan die wenners.