Kinderbeskermingsweek: Beskerm en bemagtig kinders
THABAZIMBI – Die oogmerk van Kinderbeskermingsweek van 1 tot 6 Junie vanjaar is die beskerming en bemagtiging van kinders om mishandeling te voorkom.
Kinderbeskermingsweek vind jaarliks landwyd plaas en word plaaslik deur ‘n multi-dissiplinêre span aangebied, onder andere die SAVF, Platinum Health, die SAPD en plaaslike skole.
‘n Beplanningsvergadering, onder leiding van die SAVF Thabazimbi, word beplan vir 5 Mei om 09:00 by die Gereformeerde Kerk se saal. Belangstellende gemeenskapslede en skole is welkom om dit by te woon.
In die Thabazimbi-omgewing is Kinderbeskermingsweek al ‘n bekende geleentheid onder baie skoolkinders die afgelope vier jaar. Die poppekas, praatjies en liedjie is reeds oral bekend in die omgewing.
Verlede jaar is 3 500 kinders bereik deur middel van skoolbesoeke en voedsel is ook voorsien aan 1 230 kinders.
Vanjaar word ‘n praatjie vir hoërskool- en senior laerskool leerders beoog reeds in Mei-maand, voor die eksamen begin. Die ander kinders sal tydens 1 tot 6 Junie betrek word in ‘n aanbieding en boodskap deur middel van ‘n toneel of poppekas.
Voorstelle en idees vir Kinderbeskermingsweek is welkom. Daar word ook gesoek na mense wat swart tale magtig is en betrokke kan raak by die poppekas. Tydens die beplanningsvergadering sal besluit word op die skole wat geteiken moet word en die boodskap wat uitgedra moet word.
Belangstellende skole en persone kan die SAVF by 014 777 1093 skakel tussen 09:00 en 12:00 weeksdae. Die SAVF benodig ook donasies en vrywilligers om te help met die maak en uitdeel van sop by minderbevoorregte skole.