Fondse en vrywilligers benodig om cholera te beveg
THABAZIMBI – Tydens ‘n opvolgvergadering van die Cholera-Uitbraak-Reaksie-span is daar ‘n plan van aksie opgestel ter voorbereiding vir ‘n cholera-uitbraak in Thabazimbi. Twee groot “uitdagings” is die gebrek aan fondse en mannekrag.
‘n Ander uitdaging is die dilemma van voorbereid wees in geval van nood, maar terselfdertyd om nie die bobbejaan agter die berg te gaan haal en groot uitgawes aan te gaan vir ‘n situasie wat moontlik nie sal ontstaan nie.
Die plan van aksie vir die huidige behels die toets van sogenaamde “hot spots” en die bewusmaking van die publiek oor die gevaar, hoe om die siekte te vermy en wat sou gebeur in geval van infeksie.
Vandag word drie plekke besoek deur Riaan Lategan, omgewingsgesondheidsbeampte van die Waterberg Distriks Munisipaliteit, om die water te toets vir cholera. Dit is langs die Krokodilrivier, Sandrivier en ‘n stroom langs Smashblock. Ander kritieke areas wat vir waarneming geïdentifiseer is, is Jabulani, Raphuti, Leeupoort, Regorogile, Northam, Dwaalboom, Rooiberg, Chromite, Kromdraai en plaasnedersettings naby die riviere.
Aangesien die Thabazimbi Hospitaallaboratorium nie oor die nodige fasiliteite beskik om monsters te ontleed vir cholera nie, sal dit in Lephalale gedoen word. Voorlopig sal die gevaar-areas een maal per maand getoets word. Uitvoering van hierdie funksie word tot ‘n mate ingeperk deur die aantal kilometers wat staatsvoertuie per dag mag aflê.
Die ander plan van aksie vir die volgende weke is die verkryging en verspreiding van pamflette en brosjures oor cholera in die tale van die streek. Daarmee saam moet voorligtingsbeamptes by skole, kerke en organisasies inligting versprei. Die tekort aan mannekrag vir hierdie werk word tans aan aandag gegee en die moontlikheid ondersoek om mense as vrywilligers op te lei om te help met die bewusmakingsveldtog.
Insp Dave van Heerden van die Hoopdal Polisiestasie het aangebied dat lede van sy polisiestasie tydens hul CPF-vergaderings inligting kan help versprei en kliniekvoorsitter Moffat Gaitate het ook die moontlikheid genoem van ‘n groep wat opgelei kan word vir die werk.
Ander punte onder bespreking was lokale waar cholerapasiënte gehuisves sou word indien die hospitaal nie almal kon akkommodeer nie en die verkryging van gepaardgaande toerusting soos beddens en druppe.
Een van die kwessies waaroor uitsluitsel verkry moet word is die mate waartoe nasionale en provinsiale rampbestuur bystand kan verleen in terme van toerusting en fondse in die geval van ‘n uitbraak, asook die prosedures wat plaaslik by rampbestuur in plek moet wees vir die hantering van enige ramp.Die afgelope week is een cholera-geval bevestig in Lephalale.