Nuwe skoolkalender onverskillig teenoor padveiligheid
Die onderwysdepartement het waarkynlik nie padveiligheid in gedagte gehou toe die skoolkalender vir vanjaar vasgestel is nie.
Skole sal vir die Aprilvakansie nog ‘n week uitmekaar uit sluit, waarna alle skole landwyd vanaf 15 April op dieselfde datums sal sluit en heropen. Die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor onderwys, mnr Willie Spies, het in ‘n verklaring gesê ‘n belangrike rede waarom binnelandse en kusprovinsies in die verlede verskillende jaarkalenders gehad het, was die noodsaak om vakansieverkeersdruk op Suid-Afrika se paaie te verlig.
“Skynbaar het die sentraliseringsdrang by die ANC nou daartoe gelei dat padveiligheid en by implikasie, menselewens, nou op die altaar geplaas word ter wille van ‘n eenvormige skoolkalender. Ons kan eenvoudig nie aanvaar dat sentralisasie so belangrik is nie. Die Minister van Onderwys behoort die kalender te heroorweeg”, het Spies gesê.