Nuus van die polisie

Mosambiekers gekeer om te roof

Drie Mosambiekers, tussen 28 en 30 jaar oud, is Saterdagnag op die plaas van Kerneels Riekert van Grootkuil in hegtenis geneem nadat ‘n klagte van Riekert ontvang is oor ‘n vreemde voertuig op sy plaas. Die bakkie was vol afvalmetaal en leë plastiekhouers, wat waarskynlik gebruik sou word om gesteelde brandstof in te vervoer. Brandstofdiefstal op plase kom gereeld in die Thabazimbi polisiëringsgebied voor. Een van die drie aangeklaagdes was werksaam op Riekert se plaas, die ander twee is van Tembisa. Hulle het Maandag in die hof in Thabazimbi verskyn, maar die saak is uitgestel vir ‘n week.

Steenbokstraatdiewe vasgetrek

Twee mans, wat vermoedelik by ‘n oënskynlik gewapende roof in Steenbok- en Hibiscusstrate  betrokke was, is deur vinnige optrede van die polisie Maandag 6 Oktober in hegtenis geneem. Die een is ‘n 21-jarige swart man van Thabazimbi en die ander ‘n 20-jarige bruinman, oorspronklik van die Noord-Kaap. ‘n Wapen, wat in werklikheid ‘n gaspistool was wat soos die Ware Jakob lyk,  is in die rooftog gebruik. Die twee verdagtes het reeds in die hof verskyn en aan beide is R1 000 borg toegestaan. Hulle was egter gister nog steeds in aanhouding.

Onwettige immigrante gearresteer

Tussen Sondag en Maandag het die polisie 14 buitelanders van Zimbabwe sonder dokumentasie gearresteer in en om Thabazimbi. Sommige van hulle was op pad werk toe en sommige het gewag op vervoer na hul werkplekke. Die polisie het weer eens gewaarsku dat werkgewers probleme vir hulself skep wanneer onwettige immigrante in diens geneem word. Volgens polisiebronne is hulle moeg daarvoor om die skuld te kry vir al die misdaad in die dorp terwyl Jan Publiek nie sy deel doen nie. Hulle versoek werkgewers om nie onwettige immigrante in diens te neem nie aangesien statistieke bewys dat buitelanders by meeste van die misdaad wat in Thabazimbi plaasvind, betrokke is.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.