Sport

Dames Ope Gholfnuus

THABAZIMBI –  Daar was 60 spelers by die Dames Ope Gholfdag verlede Saterdag en goeie gholf is gespeel, soos ook deur die tellings weerspieël word. Alta Venter wen die dag met 43 punte op ‘n uittel.
Anton Kabiesz (43), Kobus Snyman (41) Christo Rall (41) en O Prinsloo (40) was ook onder die voorlopers.
Die huidige voorgee stelsel is regverdig maar kan net werk as elke speler en klub saamwerk. Daarom is dit belangrik dat spelers onthou om altyd hulle voorgee-kaart te swiep voor hulle speel en om na die spel ook hulle tellings in te voer, selfs as daar op ander bane gespeel word.
Die voorgee-reëls bepaal dat die voorgeër ‘n staftelling moet invoer. Dit sal die laagste telling van die laaste 20 tellings of 6 minus baansyfer plus die speler se volle voorgee wees, watter een ookal die laagste is. (South African Golf Handicapping System 8.6).
Die Bielie van die Bosveld  word jaarliks op Thabazimbi Gholfbaan gespeel en vanjaar se datums vir hierdie kompetisie is 1 en 2 November. Die komitee wat die voorbereidings hiervoor tref hoop om dit die beste Bielie ooit te maak. Buslers Hardeware is die borg en met die goeie reklame word ‘n vol veld verwag.
Die veld gaan tot 70 spelers beperk word en inskrywings kan reeds gedoen word. Die mans en dames speel in aparte kompetisies en daar gaan baie en groot pryse wees.