General

Inbrekers loop rieme styf

CUMBERLAND – Die Cumberland polisie het vyf vermeende diewe wat die afgelope naweek die plaas van ‘n deeltydse boer in die Cumberland-omgewing beroof het, vasgetrek. Al vyf die rowers was Zimbabwiërs en een van hulle was tevore op die plaas werksaam.
Sondagnag 21 September het vyf vermeende rowers die plaas Rooipoort, wat aan  Charl de Lange wat in Brits  woon, betree en elektriese ware, beddegoed, kabels, huisware en kragopwekkers ter waarde van sowat R60 000 gesteel. Daar is ook gepoog om ‘n bakkie wat op die plaas was te steel. Hulle kon egter nie hierin slaag nie aangesien daar nie ‘n battery in die bakkie was nie.
De Lange het die inbraak om 08:00 Maandagoggend by Cumberland Polisiestasie aangemeld en lede van Cumberland SAPD se Misdaadvoorkomingseenheid en Speurtak het onmiddellik hulle onverdeelde aandag aan die voorval gewy. Die toneel is deeglik gefynkam en daar is gevind dat ‘n wit Isuzu bakkie betrokke was by die inbraak.
Vier verdagtes te voet is dieselfde middag deur vernuftige opvolgwerk langs die Cumberland/Sentrum grondpad gearresteer en daarna het deeglike ondersoekwerk op die toneel bygedra tot die identifikasie en opspoor van die wit Isuzu-bakkie en sy bestuurder, wat by die inbraak betrokke was. Die voertuigbestuurder is daardie aand in die Brits omgewing gearresteer, nadat hy in ‘n ongeluk betrokke was. Gesteelde goedere ter waarde van sowat R40 000 is teruggevind.
Al die verdagtes is afkomstig van Zimbabwe en is in hegtenis in Thabazimbi, waar hulle in die Thabazimbi Landdroshof sal verskyn. Hulle staan tereg op aanklagte van Huisbraak met die opset om te steel, Diefstal en Poging tot diefstal van ‘n motorvoertuig.
Die Cumberlandse ondersoekspan, insp PE Mampebane, s/konst G Steenberg, konst TS Muvhuso, konst FG Luvhimbi en konst E Sithagu, asook insp Selolo en sy span vanaf Rooibokkraal Grenspolisie, is deur De Lange bedank vir hulle flink optrede.
Die stasiekommissaris van Cumberland, insp IA Lilanda, het ook sy dank en waardering uitgespreek vir die sukses wat deur sy lede behaal is. Hy het egter ook sy kommer uitgespreek oor die feit dat al die verdagtes verbode immigrante is, en een van die verdagtes voorheen in De Lange se diens was op die plaas. Die gemeenskap word ernstig versoek om nie buitelanders sonder geldige werkspermitte in diens te neem nie.
Die Cumberland Polisiestasie versoek dat kennis van enige onwettige bedrywighede en ongerymdhede so gou as moontlik by die polisie aangemeld word. Die telefoonnommer is 014 779 0010/11/12.