Laerskool deel sy voorspoed
THABAZIMBI – Laerskool Thabazimbi se ouers, leerders en onderwysers het weer eens gewys dat hulle ‘n sagte plekkie het vir kinders met die bydraes wat gemaak is vir die SAVF in Thabazimbi en die Abraham Kriel Kinderhuis in Nylstroom.
Gedurende die tweede kwartaal het hierdie mense, nie-bederfbare produkte en klere by Hanti Vorster, vir jare reeds koördineerder van die projek by Laerskool Thabazimbi, besorg. Die mense weet reeds dat klere en kos benodig word en hulle stuur dit sonder dat daar noodwendig voor gevra word, verduidelik Hanti.
Volgens haar was dit ‘n besige tweede kwartaal by die skool en is daar hard gewerk en goed presteer op akademiese, sport- en kultuurgebied. Maar die betrokkenes by die skool besef dat hulle geseënd en voorspoedig is en gee met dank weer terug aan die gemeenskap.
So is daar ‘n groot besending blikkieskos en ander nie-bederfbare produkte, asook ‘n donasie aan die SAVF in Thabazimbi oorhandig. Donderdag voor die skool gesluit het, is ‘n bakkievol klere na die Abraham Kriel Kinderhuis in Nylstroom geneem.
Hannes Coetzee van Spar het, ten spyte van die huidige hoë brandstofprys, ‘n voertuig beskikbaar gestel om die klere na die kinderhuis in Modimolle (Nylstroom) te vervoer.
Volgens Hanti is hulle by die Laerskool baie dankbaar vir die positiewe gesindheid van almal wat bydra, aangesien elke bydrae ‘n verskil help maak. Sy versoek dat ouers en leerders gedurende die vakansie kaste leegmaak en alle klere wat nie meer gebruik word nie in die nuwe kwartaal skool toe stuur.