Twee netbalspanne na provinsiale proewe
THABAZIMBI – Twee netbalspanne van Laerskool Thabazimbi neem Saterdag 14 Junie deel aan die provinsiale kampioenskappe in Polokwane.
Die o/12A en o/13A spanne het deurgedring na die provinsiale kompetisie nadat hulle goed gevaar het tydens streekkampioenskappe wat die afgelope Saterdag in Thabazimbi plaasgevind het.
Laerskool Thabazimbi was die gasheer tydens die streekskompetisie wat aangebied is by die bane van Hoërskool Frikkie Meyer. Vier spanne van die laerskool het deelgeneem. Daar was altesaam 27 spanne by die streeksuitdunne.
Die o/11B-span het in die finaal en die o/11A-span in die semi-finaal met 1 punt verloor. Die o/12A-span is aangewys as die streekliga-wenners en die o/13A-span as die naaswenners in die streek.