THABAZIMBI – ‘n Baie interessante voorwedstryd gaan Saterdag 31 Mei tydens die Ben Alberts Rugbynaweek op Thaba Park gespeel word. Dit is naamlik die wedstryd tussen die Blou Bul Legends en die Thaba Goue Oues.
Kobus Wiese, wat by die Bosveld Superrugby-aand as gasheer gaan optree, gaan ongelukkig (gelukkig) nie deel van die Legends-span vir Saterdag uitmaak nie. Die manne wat deel van die Legends-span gaan wees sluit onder meer Willie Hills, Jannie Claassen, Pote Fourie, Johan Roets, Schutte Bekker, Conrad Breytenbach, Lourens Kamfer en Jaco Coetzee in. Hierdie westryd sal om 17:00 by Thaba Park plaasvind.
Die Legends gaan vanaf 08:00 tot 08:30 ‘n rugbykliniek vir die Bulletjies aanbied. Daarna tot 13:00 behoort die dag aan die Bulletjies.
Lesers word herinner aan die Bosveld Superrugby-aand wat Vrydagaand 30 Mei in die Bioskoopsaal aangebied word. Kobus Wiese en ‘n paar van die Blou Bul Legends sal al u lastige rugby vrae bespreek en beantwoord. Kaartjies is R300 per persoon en sluit in ‘n 3-gang maal, alkoholiese verversings asook geleentheid om saam met die Legends te kuier. ‘n Kontant kroeg maak later oop vir die dorstiges onder ons. ‘n Veiling van uitgesoekte memorobelia sal ook gehou word.
Anders as vorige jare vind die groot wedstryde tussen die eerste- en tweedespanne van Thabazimbi Rugbyklub en Northam Platinum plaas en nie tussen Thaba en Mogolklub nie.
