Die Landboubesigheidskamer (LBK) se tweejaarlike kongres word op 28 en 29 Mei in die Indaba Hotel in Johannesburg gehou om ernstige vraagstukke oor die wêreld se landbou en voedselsekuriteit te bespreek.
Volgens dr John Purchase, bestuurshoof van die LBK, moet landboubesighede ‘n volhoubare groeistrategie ontwikkel binne die komplekse omgewing van drasties stygende energie- en insetpryse, verwronge internasionale landbouhandel, veranderde verbruikerspatrone en hulpbronagteruitgang.
Uit die onlangse hersiening van die Suid-Afrikaanse Strategiese Plan vir Landbou blyk dit duidelik dat Suid-Afrika, eens ‘n netto uitvoerder van landbouprodukte, nou vir die eerste keer in dekades, of selfs eeue, ‘n netto invoerder van landbouprodukte geword het.
Dit laat ernstige vrae oor die land se voedselsekuriteit en landboubeleid ontstaan. Dit is duidelik dat ‘n veel aggressiewer groeibeleid vir die landbou daargestel moet word om produksie te stimuleer en waardetoevoegingsgeleenthede te ontwikkel, sê Purchase. Dis ook daarom dat die tema vir die kongres “Mobiliseer landboubesigheid vir groei” is.
Kundiges oor groei in die landbou tans en in die toekoms en wat dit beïnvloed, sal die kongres toespreek. Aspekte soos die politieke verwikkeling in Suid-Afrika, hoë impak strukturele veranderings die wêreld, Swart Ekonomiese Bemagtiging, dienslewering deur die regering, grondhervorming, interaksie tussen landboubesighede en die regering, mededinging in die sektor en landbouvooruitsigte sal indringend aangespreek word.
Die kongres sal beslis bydra tot beter strategiese posisionering en besluitneming, sê Purchase. Vir enige verdere navrae oor die kongres kan dr Purchase by (012) 300 9502 of 082 441 2308 geskakel word.
