Bolhuis besoek Thabazimbi
THABAZIMBI – ‘n Mens se liggaam is soos ‘n motor wat met ‘n handleiding kom. Daardie handleiding moet noukeurig gevolg word anders gaan die motor breek, vertel Mike Bolhuis van Specialised Security Services oor die effek van dwelms op jou liggaam.
Bolhuis het die HFM-leerders, ouers en leerders van Laerskool Thabazimbi op Dinsdag 27 Mei op drie verskillende geleenthede toegespreek op versoek en inisiatief van CJ Roets, hoofseun van Frikkie Meyer.
Net soos ‘n mens nie petrol in dieselvoertuig gooi nie, behoort niks wat die werking van ‘n mens se liggaam benadeel, soos dwelms, ingeneem te word nie, het Bolhuis aan sy geïnteresseerde gehoor by die laerskool vertel. Net soos die verkeerde brandstof ‘n motor beskadig, tas dwelms ‘n mens se organe aan en beskadig dit.
Hy het ook verduidelik dat ‘n mens se liggaam die tempel van God is en dat dit opgepas moet word. En net soos die handleiding wat saam met ‘n motor kom getrou gevolg moet word, net so moet die mens se handleiding, die Bybel, gereeld bestudeer en getrou nagevolg word. As ‘n mens se verhouding met die Here reg is, sê hy, sal ‘n kind nie probleme met dwelms ontwikkel nie.
Hy het ook aan die Gr 4 tot 7-leerders verduidelik dat een van die goue reëls is dat as daar onsekerheid bestaan oor wat presies in ‘n pil of drankie is wat iemand jou aanbied, moet dit nie aanvaar nie. Selfs al gee ‘n vriend jou die pil, sê dis onskadelik, laat jou nie na drank ruik nie, en gee jou energie – hou by die goue reël: bly weg. Nog ‘n goue reël is dat ‘n mens nooit iets wat sleg is in jou liggaam moet sit nie. Op ‘n vraag waarom hierdie dwelms dan bestaan, het hy verduidelik dat dit bestaan as gevolg van die sleg in mense, dat dwelms as’t ware van die duiwel kom.
Verskillende mense reageer verskillend op dwelms, maar dit is moontlik dat verslawing onmiddellik kan plaasvind, sê Bolhuis. En in die geval van jong kinders is die verslawing gewoonlik vinniger en die oorgang na gevaarlike dwelms ook vinniger.
Volgens Bolhuis is enige iets waarsonder ‘n mens nie kan klaarkom nie, ‘n dwelm, hetsy dit lekkergoed, gaskoeldrank, sigarette of dwelms is. Dagga is een van die gevaarlikste dwelms, omdat dit die eerste stappie na gevaarliker dwelms is. Dit tas breinselle aan en maak “jou stupid en gevaarlik”, sê Bolhuis.
Bolhuis, wat aan die leerders verduidelik het dat hy al vir jare daagliks met dwelmverwante misdade werk, het gesê dat slegs 1% van dwelmgebruikers daarin slaag om hul verslawing te bowe te kom. Dit bewys hoe moeilik dit is om die verslawing te wen, ten spyte daarvan dat dit jou lewe verwoes.
Hy het ook verduidelik watter eienskappe tipies is van ‘n jong mens wat by dwelms betrokke raak. So ‘n tiener onttrek hom/haar, slaap sleg en slaap bedags in plaas van snags, eet sleg of glad nie, begin klein goedjies uit die huis te steel, luister na “heavy metal” musiek, sommiges sluit by satanistiese bewegings aan, dra sekere soort klere en bly weg van die skool af. Hulle is dikwels ook geïnteresseerd in pornografie, lewe losbandig en verval baie vinnig.
Ter illustrasie van die mate van verval wat by ‘n dwelmslaaf plaasvind het hy vertel van ‘n 13-jarige verslaafde dogter wat vasgeketting was sodat sy nie die huis kon verlaat nie en sodat haar ouers haar beweging kon beheer. In die middel van die nag het die ma afgekom op die dogter wat besig was om die pa te verwurg met die ketting waarmee sy vasgemaak was. Die pa is gered toe die ma die dogter met ‘n stoel oor die kop geslaan het.