THABAZIMBI – Die 91-jarige Barney Prinsloo is op 18 Mei in die Tambotie Versorgingsentrum oorlede ‘n paar dae nadat hy ‘n hartaanval gehad het.
Barney is sedert Januarie in Tambotie tuis, maar is reeds sedert die tagtiger jare lid van die Thabazimbi gemeenskap. Voorheen was hy by die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die Suid-Afrikaanse Spoorweë betrokke. Later het hy op die plaas Inkermann, naby Sentrum geboer vir ‘n paar jaar.
Meeste bejaardes ken Barney omdat hy en sy skoonsuster, Sybil Pistorius, vir jare saam die Senior Burger Klub gereeld bygewoon het. Hy was dan ook vir sowat vyf jaar tuis by Bosveld Oord, maar het die laaste aantal jare by sy seun, Johan, en skoondogter, Isabel, op hul plaas Mecklenburg gewoon totdat hy in Januarie in Tambotie opgeneem is.
