Oud inwoner oorlede
THABAZIMBI – Die geliefde Tannie Marie van Staden wat altyd orals in haar rolstoel in die dorp te sien was saam met haar seun Pieter wat haar rondgestoot het se plekkie gaan nou leeg wees in Thabazimbi. Sy is op 17 Maart in Curamed Hospitaal opgeneem waar sy haar eerste hartaanval gekry het en is oorgeplaas na Brits Medi Kliniek. Daar het Tannie Marie vir 22 dae geveg vir haar lewe en nog 3 hartaanvalle gekry. Haar dogter Antoinette Swanepoel en seun Pieter het permanent by haar gewaak met die hoop op herstel, maar sy het die stryd op 8 April om 22:10 verloor. Tannie Marie het vir die afgelope 7 jaar by haar dogter en skoonseun, Antoinette en Jood Swanepoel in haar eie woonstel in die erf gebly en was baie betrokke saam met haar seun Pieter by liefdadigheidsaangeleenthede. Net voor haar afsterwe was sy hard aan die werk om vir die bejaardes in die Tambotie versorgingseenheid knie kombersies te hekel vir die komende winter. Haar vriendelike glimlag en goeie woorde vir haar medemens sal baie gemis word. Sy word oorleef deur haar 6 kinders, 3 seuns en 3 dogters.