Gr 3 uitstappie na Gold Reef City

THABAZIMBI – Hoewel hulle in ‘n myndorp skoolgaan, is die jong Graad 3’s van Laerskool Thabazimbi vir die eerste maal 226m af in ‘n mynskag in Johannesburg op Woensdag 7 Mei by Gold Reef City. En in hul eie woorde: “dit was ‘n wonderlike dag!”
Die interessanthede het begin met ‘n film oor die geskiedenis en ontstaan van Gold Reef City. Die myn, wat in 1979 gesluit is, word deesdae as ‘n museum bedryf. Toeriste, in plaas van myners, word in skagte af vervoer en die plek, waar duisende tonne goud ontgin is, kan van binne besigtig word.
Die Graad 3’s van Laerskool Thabazimbi is af in die myn tot ‘n diepte van 226m. Van die seuns het gedink dis nie baie diep nie, aangesien die myn altesaam 3000m diep is.
Die leerders is af in die myn in ‘n hysbak wat ‘n “skip” genoem word.  Die hysbak hang aan baie dik kabels wat elke week vervang word.  Onder in die myn is daar koekepanne waarin rotse gelaai is wat met dinamiet stukkend geskiet is.
Die rotse word dan na die smeltery geneem waar dit in ‘n vuurwarm oond gegooi word. Die vuurwarm oond smelt die goud.  Die gesmelte goud word in ‘n vorm gegooi, afgekoel en uitgegooi.  So ‘n stafie weeg 12,5kg.
Ná die slimword, het die Graad 3’s geleentheid gekry vir ‘n lekker ontbyt by die Wimpy. Daar was ook ‘n kulkunstenaar wat hulle vermaak het met sy manewales. En nog was dit nie al nie: hulle het ook geleentheid gehad om pretritte in stampkarretjies, bote en treine te geniet.
Van die onderwysers het saam gery, maar Daniël Koekemoer in Graad 3 kon nie verstaan waarom juffrou Martie en juffrou Gerda nie die pretritte wou aandurf nie. Al wat na hierdie besige dag vir Graad 3’s oor was, was die lang pad huis toe.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.