Bome swig voor ontwikkeling

THABAZIMBI – ‘n Klagte is by die Departement van Omgewingsake ingedien nadat al die bome binne-in die oop erf agter Pick’n Pay, binne ‘n dag of twee platgestoot is, waarskynlik om plek te maak vir ‘n ontwikkeling.
Die 9ha-erf waar die beoogde ontwikkeling plaasvind, strek tussen die Tirol Kwekery, agter Pick’n Pay verby tot by die Hervormde Kerk. Die beoogde ontwikkeling behels ‘n hotel, ‘n winkelkompleks en ‘n paar residensiële erwe.
Die klagte, wat in die vorm van ‘n petisie opgestel is, is deur prominente figure in die dorp onderteken.
Klagtes van hierdie aard word gelê by ‘n afdeling van Departement Omgewingsake wat toesien dat ontwikkelings geskied in lyn met omgewingswetgewing. Wanneer ‘n gebied vir die eerste maal ontwikkel word, moet ‘n omgewingsimpakstudie gedoen word deur ‘n omgewingskonsultant. Die studie word saamgevat in ‘n dokument, wat voorgelê word aan die Departement van Omgewingsake wat dit dan goedkeur, afkeur of aanpas. ‘n Positiewe ROD (Record of Decision) van die Departement van Omgewingsake, verleen toestemming van omgewingsowerhede se kant vir die ontwikkeling, gegrond op sekere riglyne, soos byvoorbeeld die behoud van beskermde boomspesies.
Navraag by die Departement van Omgewingsake het bevestig dat die klag ontvang is en dat die saak tans ondersoek word.
Die klagskrif beskryf die uithaal van bome as onwettig, onverskillig, roekeloos, onbedagsaam, traak-my-nie-agtig en onverantwoordelik. Volgens die klagte het daar pragtige volwasse inheemse bome op die erf gegroei, wat waarskynlik beskermde spesies soos hardekool bevat het. Dit is uitgehaal sonder enige konsiderasie, lui die klag.
Die ontwikkelaar, Louis Rossel van Lephalale, het op navraag gesê dat hoewel hy nie die nodige toestemming van die Departement van Omgewingsake ontvang het vir die ontbossing nie, het hy nie teenstrydig met die wet opgetree nie, aangesien die bome wat platgestoot is, almal indringerspesies was. Die area wat ontbos is, was ‘n ou landery en slegs sekelbosse en haak-en-steekbome het daar gegroei, en hy mag indringerplante verwyder. Niks van die bome wat uitgehaal is, was beskermde spesies nie. Geen apiesdorings of kameeldorings is verwyder nie, aldus Rossel.
Ook die omgewingskonsultant vir die ontwikkelaar, Jannie Pretorius van Ellisras, het verduidelik dat die area wat ontwikkel word voorheen ‘n lemoenboord was en dat daar heelwat uitheemse bome gegroei het. Hy meen ook dat die enigste bome wat beskermingswaardig is, die apiesdorings aan die buitegrense van die ontwikkelingsgebied was en dat die volwasse haak-en-steekbome nie werklik beskermingswaardig was nie.

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.