Kopertrokbotsing eis lewe
THABAZIMBI – ‘n Man van Zimbabwe is Woensdagnag oorlede nadat die kopervervoer-vragmotor wat hy bestuur het, van die pad geloop en omgeslaan het naby die kruising na Lephalale.
Dié reuse-ongeluk wat omstreeks een-uur Donderdagoggend 24April plaasgevind het, het weer eens bewys dat die reddingsoperasies van hierdie aard effektief in Thabazimbi hanteer kan word deur plaaslike reddingspanne. Van Thabazimbi se verkeerspolisie was reeds die hele nag op die ongelukstoneel teen agtuur Donderdagoggend.
Vier voertuie van Henlin Hauliers, met Noordwes-nommerplate, was deur Thabazimbi op pad om koperstawe van die DRK (Demokratiese Republiek van die Kongo) na Suid-Afrika te vervoer. Die vragmotors is lank, sowat 22m, en bestaan uit ‘n kajuit en twee sleepstukke. Koperstawe van 800kg elk is agterop die vragmotors vervoer.
Vroeër Woensdagaand is al vier die vervoerwaens saam deur die grenspos by Martin’s Drift, vertel die verslae bestuurder van een van die vragmotors. Op hierdie stadium het die bestuurder van die ongeluksvoertuig nie besef dat daar fout is met sy voertuig nie, vertel sy kollega.
Die algemene vermoede van omstanders op die ongelukstoneel was dat die ongeluksvragmotor se remme gefaal het.
Op die lang afdraand op pad na die stopstraat by die Total Motorhawe het die ongeluksvoertuig een van sy medevoertuie van agter getref. Die voorste vragmoter het links van die pad af probeer padgee, toe die ongeluksvoertuig verby dit beweeg en links oor die pad, naby die ingang na die Hervormde Kerk, tot stilstand probeer kom.
Die groot gewig van die koperstawe agterop moes die voertuig groter momentum gegee het, wat dit laat omslaan het. Die kajuit van die vragmotor het teen ‘n boom gebots.
Daar was drie uur lank gesukkel om die oorlede drywer uit die kajuit te bevry. Die boom waarteen die vragmotor gebots het moes afgesaag word sodat die redding- en opruimingsoperasie kon voortgaan.
Die vragmotor is met groot moeite, met behulp van Kumba-toerusting, terug op sy wiele getrek en van die pad verwyder. Teen agtuur Donderdag oggend was die verkeer op die Ellisras-pad weer fluks aan die vloei.