Bosveld VLU reik die hand uit

Helena Botha

Die Vroue Landbou Unie (VLU) Bosveldstreek se tema vir die jaar is “Leef gesond!” onder die studierigting “Gesondheid”.
Gewoonlik word so ‘n tema met uitstallings en praatjies belig gedurende die jaar, maar in 2008 het die VLU Bosveldstreek besluit om die daad by die woord te voeg. Hulle is besig om ‘n helpende hand uit te reik na vroue in ‘n afgeleë deel van die bosveld wat besig was om ‘n poging aan te wend om hulleself te help. Hier gaan dit oor die mees basiese primêre gesondheidsorg.
Die vroue in die Rietfontein-omgewing naby Beauty is vir jare reeds afhanklik van ‘n mobiele kliniek. Met groot afstande en die realiteit van ‘n oorlaaide gesondheidstelsel, het dit in die praktyk dikwels gebeur dat vroue in die kattebak van ‘n Venture ondersoek en behandel is. Die res van die pasiënte moes onder ‘n boom wag. Enigeen wat nie hiermee tevrede is nie, kan die 11 km te voet, per donkiekar of met ‘n duur huurmotor na die Selekakliniek aanpak of nog ‘n mobiele kliniek periodiek besoek vyf km weg op die plaas Klipbankfontein.
In 1997 het ‘n groep  inwoners van die Rietfonteingemeenskap byeengekom om die behoefte aan te spreek. So het die droom van die Sefitlhogo Kliniek ontstaan. Die naam “Sefitlhogo” beteken “more”. ‘n Komitee is verkies met ‘n koödineerder, me Dora Magwai, sekretaresse, me Precious Mokcheko en as tesouriere en mnr Frans Mothoni. Met die toestemming van die plaaslike tradisionele leier, word ‘n bydrae van R 20 van elke gesin gevra vir die oprigting van ‘n kliniek met konsultasie- en wagkamer.  Almal kan of wil egter nie ‘n bydrae lewer nie en dit strem die uitvoering van hulle droom. Maar die vroue het hulle nie laat onderkry nie. Daar is eiehandig stene gemaak. Water is met emmers aangedra. Die gebou het tot dakhoogte gevorder met net sommige mure voltooi asook ‘n gedeelte van die dak.
Aan die begin van September verlede jaar het een van die komiteelede vir suster Mara Lottering, ‘n professionele verpleegkundige van die mobiele kliniek by Klipbankfontein, genader. Mara is ook ‘n lid van die Beauty VLU-tak en tussen haar en die streeksvoorsitter van Bosveldstreek, me Tharina Rossel, is die projek geïdentifiseer. Sommer gou was die voltooiing van die kliniek ook vir hulle ‘n prioriteitsbehoefte. Die projek is by die streeksbestuurvergadering aanvaar en bydraes word gesoek vir die voltooiing en inrigting van die gebou. ‘n Lys van benodighede is opgestel en die vroue van Bosvled VLU het begin werk.
Op 10 April 2008 besoek me Tharina Rossel en me Hettie Vermaak, streektesouriere, die perseel en oorhandig twaalf sakkies sement, geskenk deur Ellisrastak, aan die komiteelede. Volgens Tharina is die projek vir haar en Bosveld VLU baie belangrik. Alhoewel daar in die ver afgeleë platteland nie ‘n tekort is aan behoefte nie, is dit nie dikwels wat ‘n mens afkom op ‘n groep vroue wat so vasberade werk om hulleself te help nie. Die oorhandiging van die sement was vir haar ‘n besonderse geleentheid: “Dit is met opwinding en opregte vreugde aanvaar.” Laeveld Busdiens skenk ook pyp vir watervoorsiening.
Suster Sandra van Dyk van Witpoort mobiele span lewer die verpleegkundige diens.
Met ‘n tema soos “Leef gesond!” is die vroue van Bosveld VLU besig om seker te maak dat die tema ook geld vir die vroue rondom hulle. Die droom van die Sefitlhogo Kliniek sal hopelik binnekort realiteit word, want “More is ‘n beter dag!”

Want to Receive Weekly Kwevoel Updates in Email?

We don’t spam! Read our privacy policy for more info.