THABAZIMBI – Danksy twee mense se inisiatief is die Immergroen-fonds met R2610 sterker. Die fonds staan nou op sowat R110 000.
Magda en Hannes van Wyk het ‘n deken gehekel en geskenk, waarna lootjies verkoop is. Die opbrengs van dié projek het meer as R2600 bygedra vir die aanbou van die volgende fase van die ouetehuis. Die lootjie is getrek op Dinsdag 8 April en die deken is gewen deur Frikkie Badenhorst van Ra-Molopo.
Die fondse word aangewend vir die bou van Huis Immergroen, die tweede fase van die Bosveld-oord ontwikkeling. Huis Immergroen sal woonplek verskaf aan bejaardes wat semi-selfversorgend is. Elkeen sal nog in sy of haar eie kamer woon, maar hulle sal van maaltye voorsien word en hul wasgoed word gewas.
Marie Steenekamp, die dryfveer agter die projek, spreek die wens uit dat wat die Van Wyks gedoen het elke persoon in die dorp sal aanspoor om ook betrokke te raak by die fondsinsameling vir Huis Immergroen. Hier is ‘n jarelange behoefte besig om gestalte aan te neem, sê sy. Elke poging, elke bydrae, hoe gering ook al, is welkom. Selfs ‘n sakkie sement of ‘n paar stene sal met ope arms verwelkom word, sê Marie.
Volgens Marie is die behoefte onder die bejaardes baie groot. Daar is talle wat dringend hulp nodig het. Sy doen ‘n beroep op Thabazimbiërs om hande te vat en ‘n reuse poging aan te wend om Fase 2 van Bosveld-oord tot stand te bring.
Sy sê enigeen se ouers, of enigeen self, kan blyplek benodig in die toekoms. Vir verdere navrae kan Marie Steenekamp geskakel word by (014) 772 1530 of 072 252 0770.
