THABAZIMBI – Die laaste vergadering wat die bestuur van die Gauteng Noord Gholfunie jaarliks op Thabazimbi hou bly een van Thabazimbi Gholfklub se hoogtepunte. 44 spelers arriveer om 08:00 in ‘n luukse bus en daar is dadelik ‘n heerlike gemoedelike atmosfeer en opgewondenheid. Baie van die besoekers verseker die klub dat hulle al maande lank uitsien na die besoek. Na ‘n heerlike ontbyt wat Griet van der Merwe voorberei het word daar om 09:15 gelyktydig van al die bowwe afgeslaan. Na die spel is daar eers pryse uitgedeel en Nico van der Westhuizen, Thabazimbi Gholfklub Voorsitter wat as gasheer opgetree het, was weer op sy beste stukke. Die wenners van die dag se Individuele Stableford was: Hentie Clack (41), Nico van der Westhuizen (40), Piet Venter (40), James du Toit (39), Lida Venter (38) en Bernie Gouws (38). Mark Bruyns, President van GNGU, het die komitee geloof vir die verbeteringe wat die baan die afgelope jaar ondergaan het en was veral beïndruk met die puik toestand van die setperke. Brigid Cheyne wat vir 21 jaar die baie bekwame sekretaresse van GNGU was het ook by die geleentheid die tuig neergelê. Tannie Alida van Niekerk, die oudste spelende lid in die Gholfklub het namens Thabazimbi Gholfklub komitee ‘n geskenk aan haar oorhandig. Tydens die besoek is die baan weer gegradeer. Thabazimbi Gholfklub se nuwe baangradering is nou 71 en die rekenaar sal so gou moontlik daarvolgens aangepas word. Die klub se laaste amptelike kompetisie vir die jaar is Gekkedag wat eerskomende Saterdag gespeel word. Dit is ‘n pretdag en al Thabazimbi Gholfklub lede behoort die dag te kom geniet. Onthou net jy mag net met drie stokke speel waarvan een ‘n setyster moet wees. Daan Lotheringen wat drie weke gelede ‘n heupvervanging ondergaan het moes die week weer geopereer word nadat daar komplikasie ingetree het. Dr. Willem du Plessis is ook op krukke nadat ‘n gewas aan sy been verwyder moes word. Thabazimbi Gholfklub hoop hulle spoedige beterskap toe. ‘n Bekende lid van Sages, Koos Roets, is Sondag 18 November skielik aan ‘n hartaanval oorlede. Koos, ‘n voormalige Voorsitter van Waterberg Sages was ‘n inwoner van Kokanje op Nylstroom, en was ook in die goeie ou dae Burgemeester van Johannesburg. Tannie Alida van Niekerk, het Dinsdagoggend by die indraaipad na die gholfbaan noodlottig verongeluk. Dit was ‘n geweldige skok vir die Gholfklub en almal en namens al die lede wil Thabazimbi Gholfklub die gesin troos en krag toebid.
