Tyre Corp wen krieket aandliga
THABAZIMBI – In die finaal van die Trentyre Pro-20 aandliga krieket het Tyre Corp as die algehele wenners uitgetree nadat hulle Blue Chip Donderdag 15 November geklop het. Die twee spanne het gesorg vir ‘n uitstaande en spannende finaal wat weereens gewys het dat Thabazimbi baie kriekettalent besit. Tyre Corp het eerste gekolf en die goeie totaal van 208 lopies aangeteken terwyl net 3 paaltjies gekantel het. Gus het uitmuntend gekolf en die beste totaal tot nou toe nog aangeteken met sy 89 lopies. Willem met sy 47 en Dawie met 33 lopies het self die wilgerlat behoorlik laat praat. Albertus het 2 paaltjies geneem en 22 lopies afgestaan en Barend het 1/38 geneem. Blue Chip het, ten spyte van die groot totaal om te jaag, nie agteruit gestaan nie en ‘n totaal van 178 lopies aangeteken. Dit was ongelukkig nie genoeg om Tyre Corp te stuit nie. Barend behaal 65 nie uit nie, André 29 lopies, Etienne 26 en Ruan 23 lopies. Tyre Corp het die seisoen onoorwonne afgesluit met hierdie laaste oorwinning. Die organiseerders en spelers is dankbaar teenoor al die borge, en veral die hoofborg Trentyre, wat die liga moontlik gemaak en suksesvol gemaak het. Hulle wens dan ook almal wat by die aandliga krieket betrokke was en hul gesinne ‘n geseënde Kersgety en voorspoed vir die nuwe jaar.