Suid-Afrika se skokkende stryd met gewig
Alhoewel ‘n bekende persoonlikheid maklik die opskrifte van skinderblaaie en poniekoerante haal indien hulle skielik gewig sou optel, sit Suid-Afrika met ‘n baie gewigtige probleem. Daar word gereken dat soveel as 45% van Suid-Afrikaners is oorgewig en bykans die helfte hiervan val in die vetsug-klas. Volgende week, 15 tot 19 Oktober is dit Vetsug Week. “Die dieet waarvan almal praat”, ‘n leefstyl program wat reeds die afgelope 17 jaar teen Suid-Afrika se gewigprobleem baklei, wil hiermee vetsug as kroniese siekte meer toelig. Verskeie faktore kan tot vetsug lei. Dit kan wissel van genetiese en chemiese wanbalanse tot ‘n ongesonde leefstyl. In Suid-Afrika word die skielike toename in vetsug hoofsaaklik toegeskryf aan ongesonde dieet en leefstyl-keuses wat met die skielike verstedeliking gepaard gaan. Stedelinge is geneig om meer hoë-vet, hoë-suiker, hoë-energie en lae-veselkosse, as wat die liggaam benodig, in te neem. Die rede hiervoor is beide koste en gemak – vir baie stadsbewoners is dit goedkoper, makliker en vinniger om ‘n bietjie ongesonde kos te gryp as om die tyd af te staan om ‘n voedsame en gesonde maaltyd voor te berei. Verder word die probleem vererger deur die toenemende sittende lewe voor rekenaars, in die motor heeldag en saans voor die TV en daarmee saam, die gebrek aan oefening. Die vraag is net, is jy een van hierdie risiko voorvalle? Om uit te vind of jy een van die miljoene Suid-Afrikaners is wat as vetsugtig geklassifiseer kan word, bereken net jou Liggaamsmassaindeks (BMI – Body Mass Index). BMI = gewig (kg) ¸ {lengte (m) x lengte (m)} Mense met ‘n BMI tussen 25 en 29.9 word beskou as oorgewig. Indien jou BMI 30 of hoër is, is jy vetsugtig. Indien dit bokant 35 is, is jy ongesond vetsugtig. Vetsug is nie net maar ‘n kosmetiese en fisiologiese geval nie maar word as ‘n kroniese siekte deur die Wêreld Gesondheidsraad geklassifiseer. Talle kronies en potensieel dodelike siektes word aan vetsug gekoppel. Dit sluit in hartsiektes, hoë bloeddruk, trombose, Tipe II diabetes, kanker en ‘n magdom ander siektes en kwale. Hoe groter die vetsug, hoe groter is die persoon se kans om een van hierdie siektes of kwale te ontwikkel. Die volgende vraag is dan ook, as jy vasgestel het dat jy aan vetsug lei, wat kan hieromtrent gedoen word? Die antwoord is om jou leefstyl te verander deur jou eet en oefengewoontes te verander. ‘n Dieet wat uit ‘n koolhidraat-korreksie program bestaan, lei tot ‘n gesonde lewensstyl en stimuleer die liggaam se metabolisme om daarmee te verseker dat die liggaam oormaat vet verbrand in stede daarvan om dit op te gaar. Indien jy ‘n gesonde gebalanseerde dieet volg en genoegsame oefening doen, verhoog jou energievlakke, verbeter jou gemoedstoestand en maak dit jou minder vatbaar vir geringe en ernstige siektetoestande. Indien nie, stel jy jou gesondheid in gevaar. Is daar enigsins ‘n keuse?