Die Championship Boerewors-kroon vir 2007 is die afgelope Saterdag tydens ‘n spannende eindrondte in Sun City se Valley of Waves toegeken aan ‘n slagter van KwaZulu-Natal. Jeffrey Soobramoney van Phoenix het met sy unieke resep vir tradisionele boerewors meegeding teen nege ander provinsiale finaliste en sy wen-boerewors sal vir die volgende twaalf maande deur Suid-Afrika se voorste supermarkgroep bemark word. Hy het ook ‘n splinternuwe Toyota Hilux 2.7 Dubbelkajuit Raised Body Raider en ander pryse ontvang. Die tweede plek in die Shoprite Checkers Championship Boerewors kompetisie is toegeken aan John Miller van Port Elizabeth in die Oos-Kaap; en Pieter Jooste van Coligny in Noord-Wes was derde. Thabazimbi se eie Louise Penzhorn was ook een van die finaliste tydens hierdie kompetisie. ‘n Feestelike atmosfeer het by die “Valley of Waves” geheers terwyl die kompetisie aan die gang was. Verskeie vermaaklikheidskunstenaars, ondermeer akteurs van 7de Laan, Supersterre en die groep DJ Ossewa het vir groot vermaak vir die talle sonaanbidders op die strand gesorg. Kompeti- sies soos eier-in-die-lepel resies vir die kinders en toutrek saam met die celebs vir die groter mense het tot hierdie pret bygedra. Die gewildheid van die Championship Boerewors kompetisie, wat vanjaar vir die dertiende keer aangebied is, neem steeds toe en inskrywings het vanjaar met tien persent gegroei, vergeleke met 2006. Meer as duidend van die land se voorste boereworsmakers het reeds sedert Julie vanjaar in meer as 80 streekrondtes teen mekaar te staan gekom, voordat die tien beste resepte tydens die landwye provinsiale rondte in September gekies is. Die bemarkingsdirekteur van die Shoprite Groep, Brian Weyers, sê die kompetisie voorsien die supermarkgroep weereens van nog ‘n unieke tradisionele boerewors wat aanklank sal vind by liefhebbers van boerewors. “Ons klante verwag van Shoprite Checkers om hul elke jaar te verras met ‘n nuwe smaak-sensasie, en weens die tydsame evaluasie-proses van die groot getal gehalte resepte wat ons vanjaar ontvang het, vertrou ek dat ons hul nie teleur sal stel nie. Ons sien daarna uit om verbruikers vanaf 17 Oktober vanjaar van ‘n Championship Boerewors van hoogstaande gehalte te voorsien in alle Shoprite en Checkers vleismarkte.” Volgens die bekende koskenners soos Martin Kobald, Carmen Niehaus, Justine Drake, Citrum Khumalo, Jenny Morris, Francois Ferreira, Pieter Veldsman, Dorah Sitole, Kevin Gibbs en Jeff Schueremans, wat vanjaar as beoordelaars tydens die eindronde optree het, was die wen-beslissing eenstemmig. Om te verseker dat die land se gewildste boereworshandelsnaam die beste van die heel-beste is, ontvang dit elke jaar die Suid-Afrikaanse Sjefsvereniging se Stempel van Goedkeuring.
