Health

Borskanker bewustheidsmaand

Oktober is sinoniem met ’n pienk strikkie en die borskankerbewustheidsveldtog wat daarmee gepaardgaan. Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) het egter vandeesweek gemaan dat alle inligting oor dié soort kanker nie vir soetkoek opgeëet moet word nie. ’n Onlangse e-pos het vroue landwyd gewaarsku om nie ’n sweetweerder te gebruik nie omdat dit glo borskanker kan veroorsaak. Volgens dié e-pos ontstaan borskanker juis meestal naby die armholte omdat die sweetweerder die sweetkliere glo verstop en dit die uitskeiding van gifstowwe uit die liggaam verhinder. “Dié gifstowwe word dan in die limfkliere gestoor wat ’n kwaadaardige gewas kan vorm,” lui die e-pos verder. Sweetweerders hou volgens dié e-pos- nie soveel gevaar in vir mans nie omdat “die produk in hul onderarmhare vassit en nie met die vel in kontak kom nie”. Me. Martha Molete, hoof van kommunikasie by Kansa, meen egter daar is nog geen wetenskaplike bewyse wat die gebruik van sweetweerders óf die skeer van jou onderarmhare met borskanker verbind nie. Tog meen sy dat die oksel wel sensitief is en dat die aanwending van ’n sweetweerder ’n onnatuurlike manier is om sweet hok te slaan. “Kansa sien egter nie ’n verband tussen sweetweerders en borskanker nie,” het sy bygevoeg. Volgens Molete kan vroue die risiko van borskanker verlaag deur ’n laevet-dieet te volg, gereeld te oefen, alkoholinname te beperk, babas te borsvoed en hormoonvervangingsterapie te vermy. Kansa het ’n SMS-kompetisie om geld in te samel vir pasiëntesorgdienste. SMS die woord “borskanker” na 38112 teen R10 per SMS. Kansakantore verkoop ook pienkstrikkiesleutelhouers teen R10 elk asook pienk selfoon-sierade teen R15 elk. Vir meer inligting en raad oor kanker, bel Kansa se tolvrye inligtingsdiens by 0800 22 66 022 of besoek www.cansa.org.za.